Gallery Update
SLANGRIVIER NUUS - Gumile Boezak (8) wat Woensdag 18 Oktober in die riooldam verdrink het, word Saterdag ter ruste gelê.
Inwoners van die dorpie het verslae op die toneel rondgestaan nadat die skokkende nuus bekend geword het dat 'n jong seun daar verdrink het.
Gumile het blykbaar saam met vier van sy maats kolganse by die riooldam gaan jag toe hy vermoedelik op die damwal gegly en onder die water verdwyn het.
Volgens die mediawoordvoerder van Heidelberg-polisie, a.o. Alroy Windvogel, het die voorval omstreeks 17:30 gebeur.
Sy liggaam is om 21:55 uit die water gehaal na 'n soektog van ongeveer vier ure deur 'n plaaslike polisieduiker, a.o. A. Louw.
Gumile se ouers, Maria Boezak en Gumile Esau, asook sy grootouers, Samuel en Hester Boezak was onder die inwoners wat op die toneel was tydens die soektog.
Verteenwoor-digers van Hessequa-munisipaliteit, Hessequa-beskermings-dienste, asook die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, was op die toneel om ondersteuning aan die familie te bied.
"Die munisipaliteit en raad se medelye gaan uit aan die seuntjie se ouers en almal wat hierdeur geraak word," het munisipale mediawoordvoerder, Susan Geldenhuys gesê.
Inwoners van Slangrivier staan verslae rond tydens die soektog na Gumile Boezak.
Volgens die munisipaliteit is bewerings deur sommige inwoners dat die dam nie omhein is nie, ongegrond.
"Die oksidasiedam is omhein, beskik oor toegangsbeheer, asook 'n kennisgewingbord wat ongemagtigde toegang en swem verbied."
(Suid-Kaap Forum is in besit van die foto's wat deur die munisipaliteit verskaf is van die omheinde terrein - Redakteur).
Die gemeenskap word versoek om hul kinders bewus te maak op die belangrikheid van waterveiligheid en waaksaam te wees oor hul kinders se doen en late.
Die begrafnisdiens vind Saterdag
28 Oktober om 08:00 vanaf die huis in Bosfleursstraat, Onderrivier plaas en daarna om 10:00 vanuit die Nuwe Apostoliese kerk.
Lees 'n vorige artikel: Kind verdrink in riooldam
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'