HESSEQUA NUUS - Al ses strande in die Hessequa-streek wat beoordeel is, het wéér Blouvlagstatus ontvang.
Dié aankondiging is op Vrydag, 27 November tydens 'n Blouvlagseremonie by die Waterfront Promenade in Durban gemaak.
Die strande is Gouritsmond, Lappiesbaai, Stilbaai-Wes, Preekstoel, Jongensfontein en Witsand.
Dit is die tweede agtereenvolgende jaar wat Hessequa-munisipaliteit vol Blouvlagstatus vir al ses sy strande verwerf.
'n Blouvlagstrand is 'n internasionale sertifikasie deur die Foundation for Environmental Education (FEE) en word wêreldwyd aan strande toegeken wat aan die hoogste standaarde voldoen. In Suid-Afrika word die Blouvlagprogram deur die Wildlife and Environmental Society of South Africa (WESSA) gekoördineer.
Volgens die munisipale bestuurder, Johan Jacobs, is dit 'n besonderse prestasie om weer eens hierdie gesogte internasionale akkreditasie te ontvang. Die Blouvlagseisoen strek vanaf 15 Desember 2020 tot en met 24 Januarie 2021.
Blouvlagseremonies
Lappiesbaai (Stilbaai): Vrydag, 11 Desember om 13:30. Die seremonie verteenwoordig ook Preekstoel, Stilbaai-Wes en Jongensfontein wat almal in die Stilbaai-gebied geleë is.
Gouritsmond: Maandag, 14 Desember om 08:30.
Witsand: 14 Desember om 14:00.
Didi Budricks, munisipale woordvoerder het beklemtoon dat Blouvlagstatus beteken dat strande en openbare fasiliteite by strande aan kriteria voldoen soos hoë standaard fasiliteite, veiligheid en sekuriteit, uitstaande waterkwaliteit en omgewingsopvoeding.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'