Update
STILBAAI NUUS - Ses verdagtes, waaronder vyf minderjariges, is verlede week in hegtenis geneem na afloop van 'n reeks inbrake en twee pogings tot moord in die Blombos-gebied.
Hulle in hegtenisname was as gevolg van samewerking tussen die gemeenskap en polisie. Die vlaag inbrake het Maandag 11 Junie begin en 'n plaasaanval het Woensdag 13 Junie om ongeveer 00:40 plaasgevind.
"Die eienaar, Adriaan Beukes en sy vriendin, Annarine Nicholson, het wakker geword van 'n harde geluid en by nadere ondersoek het hulle gevind dat hul slaapkamervenster twee gate daarin het," sê kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder.
"Een van die koeëls het my skrams getref nadat dit deur my twee verekussings en toe deur my duvet is. Dit is duidelik dat hulle vir ons koppe gemik het," het Nicholson aan Suid-Kaap Forum gesê. Die aanvallers het van die toneel gevlug en in die bosse weggekruip.
Volgens Fritz Bekker, wat ook eiendom in die gebied besit, het boere en ander lede van die gemeenskap saamgespan om die verdagtes aan te keer.
"Abri en Barto de Jager het uitstekende spoorsnywerk gedoen en kon hulle die spore selfs in die donker en in die ruie bosse volg." Die inbrake het voortgeduur en 'n ondersoekspan van die plaaslike polisie en misdaadvoorkomingspan, in samewerking met die gemeenskap het die omgewing begin fynkam.
Drie van die minderjarige verdagtes, twee meisies en 'n seun wat ongeveer 13 jaar oud is, is die nag gearresteer. Een van die polisielede is met 'n windgeweer raakgeskiet, wat sy naamplaatjie getref het. Hy is nie beseer nie. Die ander verdagtes, waarvan een 21 jaar oud is, is teen ongeveer 11:00 die oggend aangekeer.
Hulle het Maandag vir die eerste keer in die hof verskyn op twee aanklagte van poging tot moord en verskeie klagtes van inbraak en diefstal. Hulle het weer Woensdag voorgekom en bly in aanhouding. Die minderjariges het in die kinderhof verskyn.
"Die verdagtes kan moontlik ook met die onlangse vlaag inbrake in die landelike gebied van Stilbaai verbind word. Die moontlikheid van ander inbrake in die streek word ondersoek."
Lees 'n vorige artikel: Opvolg: Plaasaanval op Blombos
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'