RIVERSDAL NUUS - Daar is nog geen taal of tyding van Chiwaco Davids van Panoramastraat nie.
Die 18-jarige word sedert Donderdag 4 Julie vermis.
Sy ouma, Alice Davids by wie hy woon, het hom omstreeks 09:00 met kontant na die U Save-winkel in die hoofstraat gestuur, waar 'n sekerheidswag hom omstreeks 10:00 gesien het. Hy het nooit teruggekeer huis toe nie.
Die polisie is Vrydag van sy verdwyning in kennis gestel. Hul soektog na hom op Riversdal het niks opgelewer nie.
Saterdag het hulle 'n boodskap ontvang dat iemand hom in George gewaar het. Sy tante, Glenda Kleinhans, is saam met die polisie na die taxistaanplek waar hy glo gesien is, maar die soektog daar het ook niks opgelewer nie.
"Die persoon wat hom gesien het, het hom op die foto herken en is 100% oortuig dat dit wel hy was," het sy Maandag 8 Julie gesê. "Ons het familie in George, maar hy was nie by hulle nie. Hy sou in elk geval nie by hulle gaan kuier het nie, want hy weet nie eens waar hulle woon nie." Volgens haar het sy saam met die polisie oral in die strate en parke waar die haweloses slaap, tevergeefs na hom gesoek en moes Saterdagaand onverrigtersake terugkeer huis toe.
Davids se ouers is albei oorlede en hy woon by sy ouma van hy drie jaar oud is. Hy is 'n gr. 10-leerder aan Gerrit du Plessis Senior Sekondêr. "Hy is 'n saggeaarde, gehoorsame kind en stap graag winkel toe as iemand hom vra," vertel Kleinhans. "Hy is al baie by die skool geboelie, maar as dit gebeur het hy nog altyd huis toe gekom."
Volgens haar het hy sowat twee maande gelede een Saterdagaand ook nie huis toe gekom nie. "Iemand het hom die Sondag langs die N2 uit die rigting van Heidelberg gesien ryloop en hom huis toe gebring."
Sy ouma was te hartseer en bekommerd oor haar vermiste kleinseun om met Suid-Kaap Forum te praat. Sy kwel haar veral daaroor dat hy nie sy medikasie kan gebruik terwyl hy soek is nie.
Sers. Hans Busch, wat die koerant na haar huis vergesel het, het haar belowe dat die polisie alles in hul vermoë sal doen om hom op te spoor en om haar deurentyd op hoogte te hou.
Die polisie versoek dringend dat enigiemand wat hom êrens in die Suid-Kaap sien of weet waar hy hom bevind, die naaste polisiekantoor by 10111, Riversdal-polisie by 028 713 8500 of kapt. Yolandi Januarie by 078 128 3724 kontak.
Sers. Hans Busch van Riversdal-polisie en Alice Davids, die vermiste Chiwaco Davids se ouma, wat rasend van bekommernis oor hom is. Foto: Tisha Steyn
Lees 'n vorige artikel hier: Tiener word vermis
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'