Me. Rencia Willemse, die oudste inwoner van Huis Zenobia du Toit en waarskynlik Heidelberg se oudste inwoner, het haar verjaarsdag met 'n heerlike Vrouedag ontbyt by dié tehuis saam met familie, vriende, mede-inwoners asook personeellede herdenk.
Een van die personeellede, Mariaan 'Popsie' Pie-terse, het ook haar 45ste verjaarsdag gevier.
Wat tannie Rencia se eeu plus een verjaarsdag so merkwaardig maak, is die feit dat sy 'n sterk bloedlyn het. Haar ma, Annemarie Vivier, het op die rype ouderdom van 103 die lewe vaarwel geroep. Haar jonger suster, Mona Uys, het ook al 94 winters deurgemaak. Hul jongste suster, Angela Shaw, is verlede jaar Maart op 91 jarige ouderdom oorlede. Haar eggenoot, oom Onke, het haar ongeveer 46 jaar gelede ontval.
Mnr. Leon Fourie, Hessequa speaker, het die verrigtinge in die eetsaal bygewoon en het tannie Rencia tydens sy kort toespraak alle geluk en voorspoed toegewens. Hy het die aanwesiges daarop gewys dat vroue op 'n daaglikse basis wys dat hulle goeie leiers is en dat hy bly is dat soveel vroue na vore kom, veral in die politiek. Volgens hom was daar veral in die staatsdiens baie teen vroue gediskrimineer.
Me. Theresa van Vuuren, Huis Zenobia se administrasie beampte en hoofspreker, het saam haar goeie verjaarsdagwense ook hulde aan al die vroue teenwoordig gebring. Sy het die rol van vroue in die samelewing herhaaldelik beklemtoon en hulle herinner dat elke vrou 'n meesterstuk is en daarom 'n belang-rike rol in die Meester se plan speel.
"Liefde, visie en volharding is unieke eienskappe van 'n vrou," het sy benadruk. Van Vuuren het ook beklemtoon dat vroue juis met dié eienskappe groot verskille in gesinne, die kerk, gemeenskappe sowel as in die land maak, "omdat hulle meesterstukke in God se hand is". Sy het na vroue soos Helen Suzman, Patricia de Lille en die DA leier, Helen Zille, verwys wat nie terugstaan in die politieke arena nie. Met betrekking tot die finansiële wêreld het sy na Gill Marcus, goewerneur van die Reserwebank verwys.
Die vroue van Huis Zenobia du Toit is aangemoedig om nie hulself as kleipotte wat maklik breek, te ag omdat hulle oud, sieklik of arm is nie. "In elke vrou is daar 'n skat opgesluit, wat kreatief kan meewerk om hoop rondom om jou te bring en genesing te bring. Leef soos die meesterstuk wat God jou gemaak het," het sy afgesluit.
Me. LeFébre Uys, mede-inwoner, het 'n kort aanhaling aan die aanwesiges voorgehou: "Jeug is nie 'n lewenstydperk nie, dit is 'n lewensuitkyk. Ons is so jonk soos ons selfvertroue, so oud soos ons twyfelinge, so jonk soos ons geloof, so oud soos ons vrees. Die lewe word nie gemeet met jare nie. Die jare verplooi die vel, maar om lewensentoesiasme te verloor, plooi die siel. So lank as wat ons harte boodskappe van skoonheid, geluk, moed en krag kan ontvang van God, ons medemens en die natuur, is ons jonk. Mag Hy wie die lelie beklee en ag slaan op die val van die mossie, aanhou om u te lei en te seën".

Van die inwoners en gaste by die dubbele vieringe vir Vrouedag en verjaarsdag van die tehuis se oudste inwoner. Regs voor sit me. Theresa van Vuuren, administrasie beampte en hoofspreker van die geleentheid.