Update
STILBAAI NUUS - Hoewel die Hessequa-streek daarvoor bekend is dat sy inwoners 'n hoë ouderdom bereik, is dit steeds 'n groot hoogtepunt om 'n eeu te haal en Babsie Vermaak van Stilbaai het dit met grasie en goeie gesondheid op Dinsdag 15 Augustus gevier.
Suid-Kaap Forum het vinnig gaan inloer om haar geluk te wens en 'n geskenkie te oorhandig en natuurlik te hoor wat haar geheim is om so goed op 100 te lyk.
"My seun kyk baie goed na my," het sy beskeie gesê. Volgens haar was sy as jongmens baie sieklik en het sy verskeie operasies ondergaan, maar die hoë ouderdom doen haar blykbaar goed. Behalwe dat die bene nie aldag wil saamwerk nie en sy meestal van 'n loopraam gebruik maak, is sy net effens doof. Babsie maak nog haar eie kamer aan die kant en is heel bedrywig in die kombuis. "My ma het gister vir ons konfyttertjies gemaak," spog die einste Johnny wat sy ma versorg.
Buiten Johnny het Babsie en haar man, Frans, wat haar in die jare 80's ontval het, nog twee seuns; Frans, wat tans op Danabaai woon en Dick, wat in 2011 oorlede is.
Dan is daar agt kleinkinders "... en sommer baie agter- en ook agter-agterkleinkinders," beduie Babsie. Almal wat moontlik kan, kom die naweek vir die groot verjaarsdagvieringe deur, want van hulle bly ver en moet vlieg.
"En ek gaan net terugsit en dit geniet," glimlag Babsie.
Lees 'n vorige nuusflits: Babsie vier 100 jaar
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'