STILBAAI NUUSFLITS - Hoewel die Hessequa-streek bekend daarvoor is dat sy inwoners 'n hoë ouderdom bereik, is dit steeds 'n groot hoogtepunt om die eeumerk te haal - en Babsie Vermaak van Stilbaai doen dit met grasie en goeie gesondheid op Dinsdag 15 Augustus vanjaar.
Suid-Kaap Forum het vinnig gaan inloer om haar geluk te wens en 'n geskenkie te oorhandig... en natuurlik te hoor wat haar geheim is om so goed op 100 te lyk.
"My seun kyk baie goed na my," het sy beskeie gesê. Volgens haar was sy as jongmens baie sieklik en het sy verskeie operasies ondergaan, maar die hoë ouderdom doen haar blykbaar goed.
Behalwe dat die bene nie aldag wil saamwerk nie en sy meestal van 'n loopraam gebruik maak, is sy net effens doof.
Grant Riddles, uitvoerende burgemeester het ook gaan inloer om geluk te sê en ‘n sertifikaat aan haar te oorhandig.
Lees meer in Donderdag se Suid-Kaap Forum, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'