SUID-KAAP NUUS - Mandela is verreweg die grootste, mees beminde en mees gerespekteerde staatshoof wat Suid-Afrika, die vasteland van Afrika en die wêreld ooit geken het.
Vanjaar, die jaar waarin Madiba die ouderdom van 100 jaar sou behaal het, maak 'n wye verskeidenheid organisasies, soos die Mandela Foundation, talle nie-regeringsorganisasies en besigheidsinstansies, asook verskillende politieke partye gereed om sy nalatenskap te herdenk, elk op sy eie manier.
En tog sal almal een ding in gemeen hê - hulle sal hulde bring aan Mandela se eerbaarheid, sy grootheid en sy nederigheid, sy sjarme en menslikheid, sy visie en verwagtinge vir die land en sy mense. Bowenal sal hulle sy strewe onthou om eenheid, ten spyte van diversiteit, na te streef.
Hulle sal onthou hoe Mandela vreedsame naasbestaan gepreek het toe daar diegene was wat bloed gesoek het. Wie sal vergeet hoe, tydens sy vrylating, die kaleidoskoop van Suid-Afrika se reënboognasie op die parade in Kaapstad vir lang ure op sy koms gewag het en die pandemonium toe hy uiteindelik sy verskyning op die balkon maak?
Sal mens ooit die eerste demokratiese verkiesing onder sy toesig vergeet? En die inhuldigingsplegtigheid? Mens sal nog lank onthou hoe die land in stille eerbied sy heengaan ervaar het op 5 Desember 2013.
Chessley Frederick. Foto’s. Alex Marshall, korrespondent
Elke jaar vier Suid-Afrikaners '67 minute vir Madiba', een minuut vir elke jaar dat hy sy lewe gewy het om Suid-Afrika 'n beter land vir almal te maak. Hierdie jaar is besonders van 1918 tot 2018, met die bekende Madiba-gesegde 'It is in your hands now..' in gedagte.
Suid-Kaap Forum het 'n paar lesers genader om by hulle te hoor wat hulle vir Mandeladag op Woensdag 18 Julie beplan. Hulle was ook gevra wat hulle dink van die post-Mandela-era en hoe hulle dink gewone mense kan in tipiese Madiba-styl, moue oprol en self die probleme aanpak.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'