Update
HESSEQUA VERKIESINGSNUUS - Die DA het tydens verlede week se verkiesing skoonskip in die Wes-Kaap gemaak en die grootste uitdaging nou is om werk te skep.
“Die tussenverkiesing van 10 April het 'n goeie platform vir die verkiesing geskep,” meen Denis Joseph, die DA se parlementslid in die streek.
“Dit het die uitdaging gebied om beter resultate te kry, maar terselfdertyd momentum aan die verkiesing gegee.”
Die DA het hul verkiesingsveldtog gedurende die voorafgaande drie maande opgeskerp deur veral plaasbesoeke, waartydens die grondslag vir goeie verhoudinge met landbouers gelê is, maar ook sterker bande met die gemeenskap in die algemeen, nie-regeringsorganisasies, sportgemeenskappe, sakeondernemings en lede van die KhoiSan-gemeenskappe gesmee is.
Volgens Joseph is die grootste uitdagings in die streek werkskepping. “Daar is min ekonomiese ontwikkeling, daarom is dit belangrik om die boubedryf te stimuleer, soos in Stilbaai. Die opgradering van die paaie-infrastruktuur, wat plaas- en dorpspaaie insluit, asook die skep van sportgeriewe en behuising, en stimulering van toerisme is belangrike fokuspunte.” Hul langtermyn-doelwit is om die streek onafhanklik van elektrisiteitsvoorsiener Eskom te maak.
“My opregte dank en waardering aan kiesers wat gestem het om ons demokrasie in stand te hou, asook aan die blou span wat gesorg het dat Hessequa onder DA-regering met die provinsiale regering kan saamwerk om 'n beter toekoms vir alle inwoners te skep,” het hy gesê.
Lees 'n vorige artikel hier: DA wil na oorwinning werk skep
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'