Gallery Update
STILBAAI NUUS - Die plaaslike sakekamer het Vrydagaand 2 Maart geskiedenis gemaak.
Hulle bied nie net hul eerste formele gala-aand aan nie, maar dit was ook die eerste keer in die organisasie se bestaan waar besighede wat die onderskeie kategoriewenners se Prestige-toekennings was, beloon is.
Die sakekamer wou besighede wat 'n impak op die gemeenskap gehad het deur middel van innoverende en volhoubare besigheidspraktyke en leierskap, beloon.
Die publiek het besighede in verskillende kategorieë genomineer, terwyl 'n onafhanklike toekenningskeuringskomitee bestaande uit nie-sake-eienaars vir die keuringsproses verantwoordelik was.
Die wenners in die familiebesigheid-kategorie is Allegaartjie, terwyl Badisa in die afdeling vir liefdadigheidsorganisasies gewen het.
Stilbaai Paneelkloppers se Hein Hopley het die entrepreneur-afdeling gewen, met dr. Karlien van Zyl se praktyk wat met die toekenning in die kleinbesigheidskategorie weggestap het.
Stilbaai Kelders het in die afdeling vir mediumbesighede geseëvier en Pakketmoles het die afdeling vir groot besighede gewen.
Die voorsitter van die sakekamer, Rean Pretorius, het die besighede wat genomineer is, asook die finaliste en wenners gelukgewens en gesê dat dit baie moeilik was om 'n wenner aan te wys uit hierdie sterk en waardige groep besigheidsmense.
"Die paneel beoordelaars, wat twee dae lank onderhoude met elke besigheidseienaar(s) gevoer het, was dit eens dat ons dorp oor 'n samestelling van uitstekende talent, gedrewenheid en sakevernuf beskik," het hy gesê.
Die sakekamer beoog om volgende jaar hierdie inisiatief uit te brei en daardeur nog meer besighede aan te moedig om die volgende vlak van innovering en kliëntediens te bereik.
Van links is Johan Jacobs (munisipale bestuurder), Grant Riddles (Hessequa-burgemeester), Brand Pretorius (McCarthy-groep), Rachel Wall en Rean Pretorius.
Die gasspreker by die geleentheid was Brand Pretorius, afgetrede uitvoerende hoof van die McCarthy Groep.
Hy het die groot groep sakelui tydens die gala-aand met 'n gatsby-tema, uit ondervinding en ervaring wat oor 'n era van 45 jaar strek, toegespreek en het ook die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles en die Hessequa-munisipaliteit geprys vir hul suksesse.
Hy het gesê dat die munisipaliteit 'n voorbeeld is vir ander dorpe en dat hy respek daarvoor het.
Rachell Wall was die projekbestuurder van dié funksie wat deur die sakekamer georganiseer is.
ARTIKEL & FOTO'S: ELZA THIART-BOTES, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'