HESSEQUA NUUS - Besit jy ’n vryskutbesigheid, wil jy jou besigheid bemark en ’n goeie inkomste daaruit verdien, asook die kans staan om groot pryse te wen?
Die publiek kan vanaf 1 Julie vir die Bemark jouself-kompetisie inskryf. Die doel van die kompetisie is om bewusmaking vir die beroep en vir talentvolle vryskutters te skep.
Hoe skryf jy in?
Maak ’n video van minder as 1-minuut waarin jy jou besigheid beskryf en terugverwys na www.talentwerf.co.za waar jou besigheidsprofiel geregistreer is. Wees kreatief, kry ’n vriend om jou te help en maak dit oulik. Plaas jou video op jou sosiale media platforms en vra jou vriende om dit te deel.
Stuur ’n e-pos met die skakels van waar jou video geplaas is aan talentwerf@loopbaan.co.za. Die beste videos sal op ons sosiale media platforms gedeel word en ons sal die publiek vra om vir hulle gunsteling te stem. Daarna sal die wenner gekies word en die prys ontvang.
Wat is op die spel?
Die korporatiewe identiteit van jou besigheid sal hersien en professioneel herontwerp word. Daar sal in Augustus en September ’n sosiale media- en ’n bemarkingsplan ter waarde van R30 000 vir jou besigheid deur hulle professionele bemarkingspan uitgerol word. Die wenner sal ook ’n onderhoud met Maroela Media voer om hulle besigheid ten toon te stel en banieradvertensies sal op hulle webblad vertoon word. Sluitingsdatum vir die inskryf van videos is op 21 Julie.
Talentwerf is ’n inisiatief van Solidariteit Helpende Hand.
Dit is ’n platform wat aanlyn vir vryskutters die geleentheid gee om hulle werk ten toon te stel vir potensiële projekte waar hulle talente gebruik kan word. Dit is ’n platform wat ontwikkel is om vryskutters en besighede bymekaar te bring. ’n Vryskutter is ’n persoon wat selfstandig werk en nie noodwendig aan ’n bepaalde werkgewer op die langtermyn verbind is nie. Vir meer inligting kontak René du Preez by talentwerf@loopbaan.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'