STILBAAI NUUS - Laerskool Bertie Barnard het Vrydag 14 April hul gewilde beesloop aangebied.
Hierdie fondsinsameling sorg jaarliks vir hope pret en die talle stalletjies met kos en speletjies het die kinders behoorlik op hol gehad.
Dit het fyn beplanning gekos om rondom beurtkrag te werk en dan was daar nog die los reënbuitjies af en toe, maar uiteindelik het die groot oomblik aangebreek en die bees is losgelaat op die omheinde rugbyveld.
Soos elke jaar het die bees eers die veld goed verken en almal in spanning laat wag voordat die kosbare vraggie laat val is op die stukkie grond wat Vollie Volschenk gekoop het.
Dit het hom 'n volle R10 000 in die sak gebring. Dit is sekerlik die duurste mis in die land.
Corné von Molendorff van OK Foods Stilbaai oorhandig die eerste prys van R7 000 aan Jan Volschenk wat dit namens sy pa, Vollie, in ontvangs neem terwyl Nicky Deetlefs, skoolhoof, toekyk. OK Foods het ook 'n R2 000 geskenkbewys en R1 000 geskenkbewys geborg. Rozanne Oelofse het die R2 000 gewen terwyl Leon van Rensburg die R1 000 koopbewys gewen het.
Die twee meisies moes hierdie sakkies deur 'n gaatjie gooi.
Seuns bly maar seuns. Modderrugby by beesloop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’