Update
STILBAAI NUUS - Die Hessequa-streek se kunstenaars verf anoniem en het kwas in die hand om sonderlinge kleinkuns-skilderytjies ten bate van Jagersbosch se gemeenskap te skep.
Dit is projek wat gegrond is op die uiters geslaagde fondsinsamelingskonsep, Night of a thousand drawings, waartydens kuns ten bate van liefdadigheid opgeveil word.
"Stilbaai se weergawe daarvan het verlede jaar die eerste keer plaasgevind. Kunstenaars is gevra om oorspronklike kunswerke op papier, karton of doek te skenk. Elke skildery moet A5-grootte wees. Die kunstenaars se handtekening verskyn verkieslik nie voorop nie, maar hulle mag hul name agterop sit, as 'n blyk van erkenning," sê Adriaan Loots, die afslaer en hooforganiseerder.
Oor die 300 kunswerke is verlede jaar teen R100 elk opgeveil. Vanjaar se aanbod kan selfs groter wees.
"Die gehalte is puik. Die werke is uiteen-lopend in styl en daar is vir elke smaak iets te kus en te keur - en om harte bly te maak," sê Marike de Villiers, die mede-organiseerder.
Al die skilderye wat geskenk word, word in rye op draad gespan. Die gaste sal op 'n gegewe tyd die geleentheid kry om die kunswerk van hul keuse van die draad af te haal. Dit wat oorbly, sal daarna teen R100 elk verkoop word.
Vanjaar se Night of Art vind Saterdagaand, 7 Oktober, van 18:00 tot 22:00 by Die Waenhuis plaas. Die kaartjies kos R190 elk en dit sluit pret, versnaperings en wyn in.
Die opbrengs sal aangewend word om hulp aan die gemeenskap se gestremdes, bejaardes en voedingbehoeftiges te verleen.
Daar is slegs 'n beperkte aantal kaartjies beskikbaar en kan by Jagersbosch se kantore afgehaal word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’