VERMAAK NUUS - 'n Baie unieke uitvoering van Handel se oratorium Messiah is in Desember in Oudtshoorn-burgersentrum te sien.
Handel se Messiah is een van die mees uitgevoerde koorwerke in Westerse klassieke musiek en geniet sedert die 1742-première daarvan gereelde uitvoerings.
Op Vrydag 8 Desember om 18:00 kan gehore in Oudtshoorn 'n terugkeer na die weergawe van die oratorium se eerste uitvoerings in Dublin op 13 April en 3 Junie 1742 ervaar.
Die Kaapstadse Barokorkes (CTBO), onder Erik Dippenaar se leiding vanaf die klavesimbel, deel die verhoog met sangers van Lutesong Consort.
Volgens Dippenaar kan die gehoor soortgelyke musikale inkleding aan daardie eerste uitvoerings verwag.
"Die gehoor kan uitsien na barok-strykinstrumente en continuo, baroktrompette en -keteltromme, asook 'n ensemble van twaalf professionele sangers wat die solos sowel as die koordele sing, asook 'n terugkeer na die kleinskaalse kamermusiek-gevoel van die eerste uitvoerings."
Die twaalf sangers, almal lede van die barok vokale ensemble Lutesong Consort, is Lynelle Kenned, Elsabé Richter en Louise Howlett (soprane), Lente Louw, Nick de Jager en Minette du Toit-Pearce (alte), Jason Atherton, Willem Bester en Levi Alexander (tenore) en Aubrey Lodewyk, Keaton Manwaring en Patrick Cordery (basse).
Die bekende Oostenrykse barok-trompetspelers Raphael Pouget en Julian Ritsch sluit ook by hulle aan. Pouget keer nou vir 'n derde keer na Suid-Afrika terug om saam met die CTBO te werk, ná vorige optredes by die Kaapstadse Barokfees in 2018 en 2019.
Die uitvoering van hierdie geliefde oratorium word deur die Mzansi Nasionale Filharmoniese Orkes, die KKNK en Klein Karoo Klassique ondersteun.
Die orkes in Kaapstad.
Kaartjies
Kaartjies is aanlyn by Webtickets, of by Pick n Pay beskikbaar, met pryse vanaf R100 per kaartjie.
Vir meer inligting, kontak die KKNK-kantoor by 044 203 8600, stuur 'n e-pos na info@kknk.co.za of 'n WhatsApp na 065 285 2337.
Die sopraan, Lynelle Kenned
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’