STILBAAI NUUS - Die gemeenskapsaal in Stilbaai gaan Saterdag 4 Julie bruis van bedrywighede wanneer Jagersbosch se gewilde jaarlikse basaar van 08:00 tot 13:00 plaasvind.
Besoekers word aangemoedig om vroeg op te daag en die dag af te skop met die ontbytspan se smaaklike Afri-Franse ontbyt voordat hulle rustig deur die stalletjies met handwerk, snuisterye en talle winskopies kan snuffel.
Die basaar bied ook iets vir die lekkerbek, met 'n groot verskeidenheid heerlike koeke, terte, basaarpoeding en vars pannekoek. Die gewilde vleistafel beloof weer om een van die hoogtepunte van die dag te wees.
Volgens Adéle Redelinghuys, bestuurder van Jagersbosch, strek die waarde van die basaar veel verder as net die dag se verkope.
"Die basaar gaan oor die honderde oomblikke daarna wanneer 'n ouer persoon 'n maaltyd ontvang, vervoer kry, ondersteuning ontvang of eenvoudig weet daar is iemand wat omgee," sê sy.
Die gemeenskap word uitgenooi om hul ondersteuning te kom wys en deel te wees van 'n dag wat nie net goeie kopies en lekker eetgoed bied nie, maar ook 'n betekenisvolle verskil in die lewe van Jagersbosch se lede en diensgebruikers maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’