STILBAAI NUUS - 'n Stuk van die bekende Preekstoelrots by Stilbaai het vir sowat 23 jaar voor die poskantoor gestaan, maar min mense ken die interessante verhaal agter dié stuk rots.
Die rots het in 1999 van die Preekstoelrots losgebreek. Dit is aanvanklik vir 'n paar jaar by die munisipaliteit bewaar voordat dit in 2003 na die poskantoor verskuif is, waar dit vir die volgende twee dekades gestaan het.
Met die poskantoor wat deesdae deur aansienlik minder mense besoek word, het die Argeologie-vereniging van Stilbaai besluit dat die historiese stuk rots 'n meer gepaste en sigbare tuiste verdien.
Coenie Scheepers en Eugenie Wiggins het vervolgens met Hessequa-munisipaliteit onderhandel oor die verskuiwing van die rots. Met die munisipaliteit se hulp is die stuk Preekstoelrots onlangs hervestig in die tuin van die Stilbaai-toerismeburo.
Die nuwe ligging bied nie net 'n meer prominente plek vir die rots nie, maar skep ook 'n geleentheid om besoekers en inwoners meer oor Stilbaai se unieke geskiedenis en erfenis te vertel.
Die Argeologie-vereniging nooi die publiek uit na die onthulling van 'n gedenkplaat wat meer lig sal werp op die geskiedenis van die Preekstoelrots en die oorsprong van sy besondere naam.
Die onthulling vind plaas op Donderdag 20 Augustus om 10:00 in die tuin van die Stilbaai-toerismeburo.
Almal wat belangstel in Stilbaai se geskiedenis en meer wil uitvind oor die Preekstoelrots en waar dié bekende naam vandaan kom, is welkom om die geleentheid by te woon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’