STILBAAI NUUS - Die Stilbaai Bewaringstrust het Donderdag 24 September drie plaaslike kunstenaars na die Skoolkamer by Palinggat genooi om herinneringe te deel aan die pragtige muurskildery wat hulle dertig jaar gelede daar geskep het.
Maxie du Plooy het destyds die taak gekry om die vertrek in 'n egte skoolkamer te omskep. Sy het die twee plaaslike laerskole, Bertie Barnard en Melkhoutfontein Primêr, genader en gevra dat elke skool twee van hul beste jong kunstenaars beskikbaar stel.
Du Plooy het as projekleier opgetree en die rowwe uitleg van die muurskildery op die muur aangebring. Daarna het sy die kinders vrye teuels gegee om die werk tot 'n geheel te vorm.
Donderdag was Du Plooy saam met twee van die kinders wat destyds aan die projek deelgeneem het, Nadine Hansen en Elroy Kleinhans, byderhand om oor die besondere ervaring te gesels.
Hansen was slegs 10 jaar oud en Kleinhans 12 toe hulle die voorreg gehad het om saam met die bekende Du Plooy te werk.
Vir Hansen het die ervaring die begin van 'n lewenslange liefde vir kuns geword. Haar skilderwerk het nooit opgehou nie en sy is vandag self 'n kunstenaar. Du Plooy het oor die jare 'n besondere mentor en rigtingwyser vir haar geword - iemand wat dikwels iets in haar raakgesien het voordat sy dit self kon raaksien.
Kleinhans maak ook steeds kuns, hoewel dit nie sy beroep geword het nie.
Die gesprek het nie net herinneringe by die kunstenaars en oud-leerders opgeroep nie. Die ouer persone wat die Skoolkamer vol gesit het, is ook teruggevoer na hul eie skooldae en het met graagte herinneringe aan dié besondere vertrek gedeel.
Hansen het die betekenis van sulke herinneringe mooi opgesom: "En dalk is dit juis wat erfenis is: nie net die geboue en kunswerke wat ons bewaar nie, maar ook die mense, stories en invloede wat oor jare heen saam met ons groei."
Die Skoolkamer by Palinggat is beslis 'n besoek werd. Rondom palingvoertyd, omstreeks 11:00, is daar gewoonlik 'n vrywilliger byderhand om besoekers meer oor die geskiedenis van die vertrek en sy muurskildery te vertel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’