STILBAAI NUUS - Dr. Andor Venter het Maandag 28 September tydens die U3A Stilbaai se maandvergadering by Die Waenhuis by Jagersbosch 'n insiggewende praatjie, Die storie van die Hessequa Herbarium, aangebied.
Binne die rustige Tuin-Op-Die-Brak in Stilbaai word daar op 'n besondere manier aan die streek se natuurlike erfenis gewerk. Die Hessequa-herbarium dokumenteer en bewaar plantspesies uit die omgewing sodat hierdie waardevolle kennis en plantmateriaal ook vir toekomstige geslagte beskikbaar kan bly.
Die Hessequa-herbarium, wat in die Klipgebou by Tuin-Op-Die-Brak gehuisves word, speel 'n belangrike rol in die dokumentering en bewaring van die streek se besondere plantlewe.
Die Hessequa-herbarium vorm deel van 'n netwerk van herbariums in Suid-Afrika en fokus op die versameling, identifisering en dokumentering van plantspesies uit die Hessequa-streek.
'n Span van vyf vrywlligers kom een keer per week, op Dinsdagoggende, in die Klipgebou bymekaar om aan die versameling te werk. Belangstellendes is welkom om daar in te loer en meer oor die herbarium en sy werksaamhede te leer.
Plantmateriaal wat in die veld versamel word, word gedroog, gemonteer en sorgvuldig gedokumenteer voordat dit deel van die versameling word. Die Hessequa-herbarium het reeds sowat 5 000 eksemplare van ongeveer 1 800 plantspesies opgebou.
Die waarde van so 'n versameling lê egter nie slegs in die bewaring van plante nie. 'n Herbarium bied 'n permanente rekord van die plantlewe van 'n bepaalde gebied en kan waardevolle inligting vir navorsing, opvoeding en natuurbewaring verskaf.
Tuin-Op-Die-Brak is self 'n besondere fynbospark waar spesies wat eie aan die Hessequa-streek is, versorg word. Die tuin is op kalkryke grond geleë en huisves 'n groot verskeidenheid inheemse plante, waaronder ook bedreigde spesies.
Die werk van die herbarium sluit daarom nou aan by die groter doel van Tuin-Op-Die-Brak om mense bewus te maak van die waardevolle natuurlike erfenis van die streek.
Met elke plant wat versamel word, gedroog en gedokumenteer word, word nie bloot nog 'n eksemplaar by die versameling gevoeg nie. Dit is ook 'n manier om 'n stukkie van Stilbaai en die Hessequa se unieke botaniese verhaal vir toekomstige geslagte te bewaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’