Ons lees daaroor, ons praat daarvan en ons hoor ander se verhale. Maar wanneer kanker aan jou familie se deur klop, is dit tog asof dit opnuut die eerste keer is wat 'n mens werklik besef watter groot impak 'n kankerdiagnose op almal se lewens het.
My eerste kennismaking met die siekte was toe my vriend Grant met kanker gediagnoseer is. Ons was in ons vroeë twintigs en in 'n verhouding. Ons lewens het voor ons gelê en die dood was die laaste ding waaraan ons gedink het.
Die dokters het 'n kwaadaardige gewas agter sy een oog gevind.
Maar, na 'n groot operasie en die verlies van sy regteroog het die kanker vinnig weer teruggekom. Ek het nie gedink dit sal sy dood veroorsaak nie. Maar dit het.
Roudiens
En op die ouderdom van 27 het ons vir Grant 'n roudiens in 'n Anglikaanse kerk op Middelburg gehou.
Ek onthou nog wat ek aangehad het en ek onthou my pa het nog saam met my soontoe gery. Maar wat ek die meeste van daardie dag onthou is die dominee se slotsin: "Release him. Release him. Release him."
Ek het nie toe verstaan presies hoekom die dominee daardie woorde soveel keer herhaal het nie maar vandag, nadat ekself verlies ervaar het, verstaan ek dit. Dit is moeilik om te laat gaan.
Ons het nie kanker in die familie nie maar nadat ek kinders gekry het, is ek jaarliks na my ginekoloog vir 'n papsmeer en 'n borsondersoek. My tweelingsussie ook. Dit was nog nooit 'n uitstappie na die park nie maar ons beskou dit as 'n vorm van selfsorg en iets wat elke vrou behoort te doen. Mans behoort ook jaarliks vir 'n prostaatondersoek te gaan.
Terwyl ek nog in Pretoria gewoon het, het 'n kollega van my borskanker gekry. Die kanker was aggresief en ek was hoogswanger met my eerste kind toe sy my laat weet het dat die kanker versprei het. Gelukkig kon ek nog 'n besoek aan haar aflê sodat sy my dogtertjie kon ontmoet. Maar sy is kort daarna oorlede.
Geen voorkeur
Dié kankerstories was egter almal nog 'half ver'.
Die skok was groot en het eintlik steeds nog nie ingesink nie toe my tweelingsussie 'n paar weke gelede met servikskanker gediagnoseer is. Kort na die diagnose was dit die een afspraak na die ander en daar is dadelik 'n datum gereël sodat die gewas tydens 'n operasie verwyder kon word. Die kanker het gelukkig nie versprei nie. Maar my sussie is deur 'n onbeskryfbare moeilike tyd. Sy het vir die afgelope vyf weke, vyf chemo-sessies gehad en elke dag vir bestraling gegaan.
Die behandeling is nou voltooi maar dit is asof ons nou eers regtig tot verhaal begin kom. Soms tref dit my soos 'n vuishou in die maag, asof ek dit vir die eerste keer hoor.
Haar liggaam herstel steeds na die behandeling en sy is 'n skadu van die mens wat sy voor die tyd was. Ons fokus is egter nou op die herstelpad. Maar ek dink ons sal altyd diep bekommerd wees oor haar. Hoe gaan 'n mens na so 'n diagnose met jou lewe aan sonder om soms met die vrees dat dit sal terugkom saam te leef? Hoe leef jy ooit weer sorgvry?
Kanker het nie 'n voorkeur wat ouderdom, ras of geslag betref nie. Kyk na jouself en jou gesondheid, pas selfsorg toe - mans om jaarliks vir 'n prostaatondersoek te gaan - en vroue om jaarliks vir 'n mammogram en 'n papsmeer te gaan.
Dit kan regtig jou lewe red, of verleng, soos dit my sussie s'n het.