HESSEQUA NUUS - Die Hessequa Harmonie-musiek- en kunsfees het sy borge onlangs in styl gevier met ’n elegante aand by De Hoek Manor in Stellenbosch.
Gaste is verwelkom deur André van Vuuren op akkordeon, en kon die uitsonderlike optrede van pianis Elna van der Merwe en sopraan Jo-Nette le Kay geniet.
Met wyne van Van Loveren, ’n feestelike atmosfeer en die ondersteuning van hoofborg EasyEquities, is die 2025-feesprogram amptelik bekend gestel.
Die aand het die gees van Hessequa Harmonie weerspieël: ouwêreldse bekoring, kulturele rykdom en samesyn.
Met die ondersteuning van sy borge groei die fees steeds as ’n baken van kunstenaarskap en gemeenskapsgees in Heidelberg.
Feesdirekteur Niël Rademan het sy dankbaarheid teenoor die borge uitgespreek: “Hessequa Harmonie is meer as net ’n fees - dit is ’n byeenkoms van harte en talente.
Niks hiervan sou moontlik wees sonder die ruimhartigheid en visie van ons borge nie.
Vanaand vereer ons hul rol om die kunste lewendig en toeganklik te hou.”
Besoek hessequaharmonie.co.za vir meer besonderhede en die volledige program.
Vir navrae, skakel Lindi Smit by 084 446 3200, of stuur ’n e-pos aan hessequaharmonie@gmail.com.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’