HESSEQUA NUUS - Die afgelope week was uiters bedrywig vir brand- en noodspanne in die Hessequa-distrik, met drie afsonderlike brande in Heidelberg, Albertinia en Melkhoutfontein in Stilbaai.
By Heidelberg het 'n beplande brand op Dinsdag 2 September omstreeks 16:30 buite beheer geraak en versprei.
Hessequa- munisipaliteit, die Southern Cape Fire Protection Association (SCFPA) - Working on Fire, en die Garden Route Distriksmunisipaliteit (GRDM) se brand- en reddings-dienste is vinnig ontplooi.
Teen die aand is bevestig dat die vuur onder beheer gebring is.
Die vorige dag, Maandag 1 September, het 'n brand omstreeks 12:00 in 'n nedersetting in Melkhoutfontein uitgebreek en tot groot skade gelei.
Volgens voorlopige inligting het dit ontstaan toe iemand met 'n gasstofie kos gemaak het. Die vuur het onwettige strukture op privaat grond verwoes en sowat 26 mense dakloos gelaat.
Die meeste inwoners was tydens die voorval nie tuis nie.
Verder is bevestig dat 'n brand by Albertinia wat Saterdag 30 Augustus uitgebreek het, op Maandag 1 September omstreeks 16:30 weer opgevlam het, maar dit is vinnig deur GRDM-brandbestryders en Working on Fire-grondspanne geblus.
Nabehandelingswerk is voltooi en die brand is amptelik geblus.
Spanlede het later die dag van die terrein onttrek, maar die brandgebied is steeds deur die nag gemonitor.
Owerhede waarsku dat brande nou algemeen gaan raak en dat inwoners waaksaam moet wees en enige tekens van brande onmiddellik moet aanmeld by 044 805 5071 of WhatsApp 081 709 5193.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’