HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike polisie benodig dringend inligting wat sal help om die identiteit van 'n onbekende manspersoon wat sy lewe Dinsdagoggend, 2 September, op die R322 verloor het, te bevestig.
Die oorledene, vermoedelik 'n jongman, is in digte mis noodlottig deur 'n voertuig op die Witsandpad getref.
Volgens konst. Keeno Fredericks, plaaslike mediabeampte, was die oorledene glo 'n voetganger wat ongeveer 07:00 deur 'n onbekende padgebruiker/motoris omgery is.
Sy gesig is onherkenbaar geskend.
Fredericks noem verder dat die oorledene in 'n swart Identity hoody en swart jeans geklee was.
Indien iemand moontlik weet wie die slagoffer kan wees, kan hulle so spoedig moontlik vir Fredericks by 079 893 9930 of die polisiestasie by 082 522 1225 skakel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’