STILBAAI NUUS - Waar hulle gewoonlik jag maak op rooipitjie en manatok het Stilbaai-bewaringstrust Maandagoggend, 1 September, twee Australiese mirtebosse getakel.
Hierdie twee karnallies is blykbaar in 1996 deur 'n miksvermoedende inwoner op 'n stuk staatsgrond, wat vir 'n hoërskool in Stilbaai geoogmerk is, geplant.
Hierdie spesifieke mirtebos is familie van die bloekom en koejawel, kan tot agt meter hoog raak, groei laag op die grond en verdring alle plantegroei, wat natuurlik baie sleg is vir fynbos.
Met finansiële bystand deur vriende van die Gouritz-groepsbiosfeerreservaat, kon die trust 'n masjien huur wat die bosse net daar waar hulle gegroei het gemaal en vernietig het.
Die rede daarvoor is dat hierdie bos letterlik miljoene saadjies kan versprei as die bos uitgehaal en vervoer word na die stortingsterrein.
Dr. Deon Begemann, voorsitter van Stilbaai-bewaringstrust, en dr. Wilhelm de Beer, inligtingsbeampte by die Gouritz-groepsbiosfeerreservaat, vra dat inwoners hulself vergewis van die status van bome en bosse voordat hulle dit iewers plant.
Inheemse bome en bosse, endemies aan die streek, moet sover moontlik voorkeur kry om sodoende die pragtige fynbos te beskerm vir die geslagte wat kom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’