ALBERTINIA NUUS - Die spitsvondige grapjas, tannie Dorothy Johnson van Albertinia, het Vrydag 22 Augustus 'n besondere mylpaal bereik met haar 100ste verjaarsdag.
Tannie Dorothy is op 22 Augustus 1925 in Koffiefontein gebore.
Hierdie Vrystater van geboorte het in Beaufort-Wes grootgeword met 'n Engelse pa en Afrikaanse ma.
Haar pa het tydens die Eerste Vryheidsoorlog na Suid-Afrika gekom en haar ma was deel van die Groot Trek.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog het tannie Dorothy in Pretoria by die oorlogkantoor gewerk en het daarna op 'n stadium in die ou Rhodesië gewoon, waarna die gesin in 1982 na Suid-Afrika teruggekeer het en hulle in Pietermaritzburg gevestig het.
Tannie Dorothy het vier kinders, drie kleinkinders en drie agterkleinkinders.
Haar oudste dogter, Denise Waring, en haar gesin boer in die Ladismith-distrik.
Dan is daar twee dogters, Lynette en Colleen Hawkins, wat in Engeland woon, en John Hawkins, die jongste, woon in Albertinia.
Sedert 2016 woon tannie Dorothy in Albertinia-versorgingsoord, waar sy 'n regte plaatjie is.
Haar kinders het hierdie mylpaal saam met haar gevier met 'n lekker partytjie wat hulle en die versorgingsoord gereël het.
Grant Riddles, Hessequa-burgemeester het haar verras met 'n spesiale sertifikaat.
Annemarie van Zyl, voorsitter van die beheerraad, het in haar toespraak net lof gehad vir hierdie merkwaardige vrou en nét voor die heerlike eetgoed ingebring is, het die aanwesiges haar toegesing.
Tannie Dorothy sê haar resep is dat sy haar deesdae nie steur aan mans nie en sy drink ook nie, daarom kon sy die tye deurstaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’