STILBAAI NUUS - Die brand by Melkhoutfontein waar omtrent 26 mense dakloos gelaat is, het 'n interessante kinkel gekry deurdat hierdie onwettige strukture op privaat grond was.
Die brand het Maandag-middag, 1 September ongeveer 12:00 uitgebreek terwyl die meeste inwoners nie tuis was nie.
Die vermoede bestaan dat iemand met 'n gasstofie kos gemaak het wat gelei het tot die brand.
Die brandweer was blitsig op die toneel en van die strukture moes oopgebreek word om besittings te probeer red, maar daar was baie skade.
Ongelukkig is daar in sulke gevalle nooit versekering op die strukture of huisinhoud nie en hierdie inwoners moet nou van voor af begin.
Hessequa-munisipaliteit het Maandagaand die gemeenskapsaal in Melk-houtfontein voorberei met matrasse en komberse en Stilbaai GPF het kos en water voorsien.
Die slagoffers het blykbaar egter net die kos gevat en elders gaan slaap.
Onwettige besetting
In 'n skrywe van Hessequa-munisipaliteit in 2014 is genoem dat die raad besluit het om, ingevolge die grondhervormingsprojek en grondbeskikbaar-heidsooreenkoms tussen Hessequa-munisipaliteit en die departement van menslike nedersettings, gedeeltes 148 en 149 van plaas 480 Melkhoutfontein oor te dra aan die boedel van mnr. A du Plessis, maar dat dit eers oorgehou word om te verseker dat die proses wetlik geskied.
Du Plessis het vir baie jare 'n suksesvolle boerdery daar bedryf.
Die status quo het nog nie verander nie aangesien die boedel nog nie gefinaliseer is nie, en intussen het talle plakkers stelselmatig 'n gedeelte begin beset en strukture opgerig.
Erfgename bekommerd
Herhaalde versoeke dat die besetters verwyder moet word, is deur die erfgename, Bokkie en Anna Saayman, aan die munisipaliteit gerig, maar sonder enige sukses.
Hulle is nou bekommerd dat hierdie plakkers weer strukture daar gaan oprig en ander opportuniste die geleentheid gaan gebruik om hulle ook daar te vestig.
Die Saaymans het onlangs R40 000 aan heinings spandeer, maar hulle is nou bang dat hulle die geld in die water gegooi het.
Die besetters is ook vir hulle 'n struikelblok in hulle strewe om daar te boer.Saayman sê dat onwettige elektrisiteitsaansluitings al in die verlede daar verwyder moes word, maar met Suid-Kaap Forum se besoek Dinsdag is 'n uitgebrande yskas daar aangetref. Waar kom die krag vandaan?
Onwettige kragaansluitings en die feit dat die strukture teen mekaar opgeslaan word sonder enige boubeplanning is 'n teelaarde vir 'n groter brand en heel moontlik lewensverlies.
Munisipaliteit reageer
Hessequa-munisipaliteit het as volg op Suid-Kaap Forum se navraag gereageer: "Gedeelte 15 van die plaas 480, Melkhoutfontein waarop die brand plaasgevind het, is volgens ons rekords steeds in die naam van Hessequa-munisipaliteit geregistreer.
"Enige onwettige besetting op munisipale eiendom word in terme van die raad se goedgekeurde grondbesettingsplan hanteer.
Die munisipaliteit raak egter nie betrokke by enige uitsetting op privaatgrond nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’