Update Video
STILBAAI SPORT NUUS EN VIDEO - Die 20ste Vintners Surf Classic het Vrydag 16 Augustus in 'n koelerige Stilbaai plaasgevind.
Die skraal windjie kon nie die 50 deelnemende wynmakers se geesdrif demp nie en Morrispunt het vroeg al van motors en mense gewemel.
Deelnemers het van Plettenbergbaai tot die Weskus gekom en heelwat inskrywings moes op die waglys beland omdat net 'n beperkte getal mense gehuisves kan word.
Gunter Schultz, wynmaker van Riversdal was sedert 2000 betrokke by die reëlings. Aanvanklik was dit nie 'n kompetisie nie, vertel hy.
'n Klein groepie wynmakers en hul gesinne het vir 'n dag van branderry en kuier bymekaar gekom. Mettertyd het die geleentheid in 'n volwaardige fondsinsameling vir organisasies sonder winsbejag, soos Surf4Life en die Pebbles Project verander.
Surf4Life sorg vir branderplankryers met kanker en leer ook behoeftige kinders branderplankry. Die Pebbles Project fokus op die bekamping van fetale alkohol-sindroom.
Volgens Schultz is daar hierdie jaar om pryse ter waarde van meer as R60 000 meegeding. Tydens die aand se prysuitdeling is 'n magnumbottel rooi wyn wat deur die elfmalige wêreldkampioen Kelly Slater geteken is, opgeveil. Die wenners in die onderskeie afdelings was Sarah Havard (dames), Christo le Riche (juniors), Pieter Walser (seniors) en Johan Reyneke (ballies).
Stilbaai baat ook by die geld met die organisasie se projek om die trappe by Morrispunt te herbou met gebruikte wingerdpale. Sodoende sal niemand meer oor die duine hoef te loop en plante in die proses beskadig nie.
Kyk 'n video hieronder:
Branderplankryers wag vir die groot brander. Foto: Deona Aucamp
Lees 'n vorige artikel hier: Wynmakers baljaar in die branders
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'