Gallery Video
STILBAAI SPORT NUUS EN VIDEO - Nie eens gekoekte lyne of omgedopte kajakke kon die geesdrif tydens die tweede kajak-visvangkompetisie in die kusdorp demp nie.
Reën en sterk wind het vir onstuimige see op Saterdag 8 Februarie gesorg en heelwat hengelaars het die rivier vir die dag gekies.
Sommige manne was sommer vroeg al papnat terug op die hawe, maar opgee was min.
Baie grappe en oor-en-weer aanmoediging was aan die orde van die dag. Sondag 9 Februarie het die son weer uitgeloer en vir perfekte hengelweer gesorg.
FOTOGALERY: Kajakvisvang op Stilbaai
Volgens organiseerders Eugene van der Walt en Stefan en Susan Grové het hulle 53 inskrywings die jaar ontvang, teenoor die 20 van verlede jaar: "Ons doen beslis iets reg," sê Van der Walt met 'n vonkel in die oog. Hengelaars het van so ver as Oos-Londen gereis vir die kompetisie.
Die organiseerders sê meer as 200 visse is oor die twee dae gevang, gemeet, gefotografeer en in die water teruggegooi.
Kyk 'n video hieronder:
Die trofee vir die grootste vis het aan Alan Neate vir sy 2,8 kg en 65 cm-lange kabeljou gegaan. Tweede was Donovan Wiechmann met 'n bonito van 60 cm lank.
Cassie Theron se bonito van 55 cm het hom die derde plek besorg.
Die swaarste sak vis is deur Alex Liebenberg ingeweeg, met Tommie Kruger tweede en Tim Maree derde.
In die damesafdeling het Johanna Neate met 'n bonito van 53 cm lank skoonskip gemaak.
Laerskool Bertie Barnard se hoof Nicky Deetlefs het ook onder luide toejuiging 'n prys gewen, maar dit was vir die mooi prentjies wat hy op sy puntekaart geteken het terwyl hy gewag het vir 'n vis om te byt.
Benewens pryse soos visstokke, katrolle en meer was daar ook 'n paar gelukstrekkings. 'n Kajak ter waarde van R15 000 is deur Juan van Staden gewen.
Sondag 9 Februarie was perfekte visvangweer. Foto: Deona Aucamp
Sommige hengelaars het die rivier verkies. Foto: Vilando Kleinhans
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'