Update
STILBAAI NUUS - Die skeurtandhaai wat die visueel-gestremde Stilbaai-hengelaar, Leon van Wyk, tydens die Suid-Kaap Interklub-hengelkompetisie op Saterdag 3 Februarie in Plettenbergbaai gevang het, is 'n uiters rare verskynsel.
Nie een van die hengelaars, wat reeds vir dekades hengel, het al dié verskynsel teëgekom nie.
Die haai was 1,89 m lank en het ongeveer 127,67 kg geweeg. Sy stert kon nog 1,2 m by sy lengte gevoeg het en tussen 60 en 70 kg by sy gewig.
Volgens Van Wyk (59), 'n Protea-hengelaar wat al groter haaie as die een uitgetrek het, is dit moontlik dat 'n ander roofvis sy stert afgebyt het aangesien 'n letsel sigbaar is.
Dit is nie net raar dat die haai sonder 'n stert só lank oorleef het nie omdat dit sy jagmetodes beïnvloed, maar ook omdat dit nie dadelik deur ander roofvisse opgeëet is toe sy stert afgebyt is nie.
Dit was nie maklik om die haai op die strand te kry sodat dit gemeet kon word nie, aangesien hengelaars juis die vis aan sy stert uitsleep.
Die haai is, soos al die ander visse wat gevang is, weer vrygelaat.
Van Wyk se skeurtandhaai was die grootste vis wat Saterdag uitgetrek is en hy was die algehele wenner vir die dag.
Lees 'n vorige artikel: Stilbaaier trek haai sonder stert uit
ARTIKEL: ELZA THIART-BOTES, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'