Gallery
RIVERSDAL NUUS - Om jou laaste tuiswedstryd van die skolerugbyseisoen met 'n oorwinning af te sluit, sou by Oakdale en sy ondersteuners heel smaaklik afgegaan het.
So gemaklik soos 'n stukkie Wagyubiefstuk - vir sowat R850 vir 1 kg - en 'n bottel Tokara "Telos" Cabernet Sauvignon teen 'n weggeeprys van R5 220 (dis per bottel Kerneels!).
Dit was die Bulle nie Saterdag beskore nie. Paul Roos het die partytjie bederf deur die intense tweestryd met 13 - 3 te beklink.
Maar maklik was dit beslis nie, dit sal die Stellenbossers, wat dié seisoen self gemengde welslae behaal het, ruiterlik erken.
FOTOGALERY: Wen in laaste tuiswedstryd nie vir Oakdale beskore
Nie een van die twee spanne het werklik oorheers nie, hoewel Paul Roos voorlangs soms sterk geskrum en ook met hul dryfmaalbewegings meters veld gewen het.
Op die aanval was die besoekers eweneens skerp, maar Oakdale se verdediging was oudergewoonte solied.
Armand Combrinck buk om sy teenstander oor sy skouer te gooi terwyl Emilio Silva (links) naderstorm. Combrinck het skitterspel gelewer.
Oakdale se kopsere het in die lynstane gelê waar hy goed die helfte van sy ingooie afgestaan het. Dit het onnodige druk veroorsaak. Oakdale was ook te stadig by die afbreekpunte en het hiermee vir Paul Roos meer kanse gegee om vinnig met omgekeerde besit terug te slaan.
In só 'n gelykopstryd is dit moeilik om spelers uit te sonder. Maar die keur onder die tuisspan was die flank Armand Combrinck en die loskopstut Marko Conradie. Maar 'n kopknik vir die res van die span: hulle het nooit gaan lê nie.
Oorwinnings in die twee oorblywende wegwedstryde teen Framesby en Boland Landbouskool sal natuurlik vir 'n paar teleurstellings dié seisoen opmaak.
Dan sal daai Wagyubiefstuk super smaak. Die rooiwyn kan eers wag...
Emilio Silva strek om sy bal agter die doellyn te druk. Dié drie is ongelukkig nie toegeken nie.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'