RUGBYNUUS - Heidelberg kan Saterdag sy vierde agtereenvolgende oorwinning in die SWD se Super A-liga behaal wanneer hy tuis teen Bridgton te staan kom.
Besoekende rugby-spanne weet al: op sy tuisveld is Heibi 'n bitter moeilike kalant om te klop met fanatiese ondersteuners wat bankvas agter hul pronkspan staan.
Maar nou wag Bridgton van Oudtshoorn en Heibi kan hulself regmaak vir 'n reusestryd Saterdag, skryf Clive Pretorius.
Heibi lê tans in die tweede plek op die punteleer met Bridgton knap agter hom in die vierde plek. Heibi se oorwinning met 31 - 12 teen Jaguars mag dalk lyk na 'n gerieflike sege, maar dit was egter nie so indrukwekkend nie.
In teenstelling met hul kenmerkende vlugvoetige vertonings vanaf die afskop, het Heibi seker dié keer hul ondersteuners taamlik laat kopkrap met seker een van hul minder oortuigende vertonings van hul seisoen tot dusver.
Riversdal Blues pak Maori's in 'n wedstryd wat hy eenvoudig móét wen as hy nog enige aspirasies het om onder die voorste ses spanne in die Super A-liga te eindig. Maori's beskik, soos die Blues, oor 'n klomp windhonde wat vanuit elke hoek van die veld kan aanval, maar dis voorlangs waar dié geveg gewen of verloor gaan word.
Albertinia Rangers pak Eagle Stars tuis terwyl Seagulls ook sy tuisveldvoordeel teen Knysna United moet gebruik. Albei spanne het die spelers om die knoop hier deur te haak.
Riversdal-dorp pak vir Young Roses in 'n wegwedstryd.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’