Dis eers haalbaar as die Arende die ander spanne uitknikker wat aan die Curriebeker se Eerste Liga deelneem èn die Griekwas klop. Nogal 'n mondvol.
En dan wil hy beter vaar in die Vodacombeker-reeks wat dié naweek afskop met 'n moeilike wegwedstryd teen die Vrystaat-Cheetahs. Die Arende se vertoningslys in dié reeks is beroerd, om die minste te sê. Verlede jaar kon hy slegs een van sy sewe Vodamcombeker-wedstryde wen en het hy derde laaste in sy afdeling geëindig.
Tog het die Arende beter vertoon in die Curriebeker se Eerste Liga en algeheel vierde klaar gemaak. Dit kon net sowel derde gewees het, maar een of twee kritieke nederlae - wedstryde wat hy in die spreekwoordelike sakkie gehad het - het dinge verbrou.
Maar dis mos kruip voor jy kan loop in dié lewe en dis wat die Arende nou op moet konsentreer. Skop goed af in die Vodacombeker en speel 'n plek onder die topdrie los - en dan pak jy die Eerste Liga met nuwe geesdrif.
Gegewe sy pap vertoning in die Vodacombeker-reeks verlede jaar, is die Arende beslis nie die gunsteling om Saterdag met die Vrystaat-Cheetahs af te reken nie. Die tuisspan is wel verswak met al sy topspelers wat in die Superrugby-reeks speel, maar dit wemel van die talentvolle spelers in die Rosestad. Die tuisveldvoordeel is 'n bonus.
Tot oormaat van ramp het die Arende van sy sleutelspelers verloor of aan beserings afgestaan. Hy gaan die betroubare skopwerk van sy heelagter-stelskopper Justin van Staden beslis mis. Van Staden het na die Pumas uitgewyk. Die Arende-kaptein, Kabamba Floors, is waarskynlik nog vir drie maande uit en sy twee kwiksilwer-vleuels, Alshaun Bock en Clint Wagman, ook vir 'n paar weke. Die losvoorspeler Buran Parks se kakebeen is gebreek.
Die Arende sal boonop nie sy spelers van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (Madibaz) in die Vodacom-reeks kan inspan nie.
In sy oefenwedstryde vooraf het die Arende maklik met die twee klubspanne, Blanco (80-0) en Bridgton (75-0), afgereken. Nie dat mens veel uit hierdie oorwinnings sou kon leer nie. Trouens, beserings aan twee staatmakerspelers was die prys wat hy moes betaal en mens moet dit bevraagteken of dit die moeite werd was.
In sy beginspan vir Saterdag se kragmeting het Bevin Fortuin, afrigter, 'n paar ervare spelers ingebring. Die haker Hannes Franklin het van die OP Kings by die Arende ingeval saam met Karlo Aspeling, losskakel van die Grens. Albei is in die beginspan opgeneem.
Die wedstryd sal 'n vuurdoop wees vir Grant Kemp, wat as kaptein vir die Arende vir die Vodacombeker-reeks aangewys is.
Hier kom 'n taai afskop. Die pad na Bloemfontein is eerder met dorings as rose besaai.
Nuwe vere vir Arende. Die SWD Arende spog met 'n stel splinternuwe rugbytruie danksy 'n ruim borgskap van Canterbury. Die truie is Dinsdag by Outeniquapark aan die media en hooggeplaastes bekend gestel. Canterbury gaan die SWD se provinsiale rugbyspanne van o.12- tot op Curriebeker-vlak vir die volgende drie jaar borg. Die Arende gaan in sy wegwedstryde met wit truie speel en in sy tuiswedstryde in groen. Van links: Bevin Fortuin, hoofafrigter, Martin du Toit, Mzwanele Zito, Du Toit Botes, uitvoerende hoof van Canterbury Suid-Afrika, Johan Prinsloo, uitvoerende hoof : SWD Rugbyunie, Grant Kemp (Arende-kaptein), Alshaun Bock en Anton Leonard, hulpafrigter. Foto: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein-Karoo nuus'