STILBAAI RUGBY NUUS - Dit was naels byt en 'n wipplank ry Saterdag 8 Junie op Melkhoutfontein se rugbyveld, maar uiteindelik het albei die Seagulls-rugbyspanne vir Riversdal Blues ore aangesit.
Honderde rugbyondersteuners van Melkhoutfontein en Riversdal het saamgetrek om dié kragmeting te aanskou.
Blues, wat as die gunstelinge beskou is, het hul moses teëgekom. Hoewel die A-spanne se rustydtelling gelykop met 7 elk was, kon Blues nie die wa deur die drif trek nie en verloor met 14-15.
Seagulls se heelagter, Joshwin Pietersen, het al die A-span se punte, wat bestaan het uit twee drieë, 'n doel- en strafskop, aangeteken. Sy eerste drie is binne die eerste 10 minute aangeteken toe hy deur Blues se agterlyn breek. Sy tweede drie is in die laaste paar minute voor die eindfluitjie geblaas het, gedruk.
Seagulls se B-span het ook 'n naelskraapse oorwinning van 23-20 behaal. Corné Witbooi (2) en Harold Martiens (1) was drie driedrukkers.
Delano Jacobs het met 'n doel- en twee strafskoppe geslaag.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'