STILBAAI RUGBYNUUS - In 'n baie spannende wedstryd Saterdag 17 Augustus het Seagulls daarin geslaag om Jaguars met 28 - 22 op die Melkhoutfontein-sportterrein te klop.
Die twee spanne het van die begin af ingeklim in 'n baie fisieke stryd, maar Seagulls het kopgehou, terwyl Jaguars op kritieke stadiums besit en strafskoppe afgestaan het.
Die span van Plettenbergbaai het 'n blitsige agterlyn, maar hulle het telkens onder hul ondersteuning uitgehardloop en is dan gestuit voordat hulle veel skade kon aanrig.
Met die rustydtelling 15 - 3 in die guns van die tuisspan het dit gelyk asof Seagulls hierdie wedstryd in die sak het, maar Jaguars het verwoed teruggeveg in die tweede helfte en was teen die einde van die wedstryd op Seagulls se doellyn en kon net-net nie daarin slaag om punte aan te teken nie.
Puntemakers vir Seagulls was die regtervleuel Eldon Manho, losskakel Curnall Sollmans en flank Ruben Daries met 'n drie elk, terwyl Curnall Sollmans se giftige skopskoen twee doelskoppe en drie strafskoppe bygevoeg het.
Die B-span was ongelukkig om die spit af te byt met 17 - 19. Hierdie is 'n wedstryd wat hulle beslis kon wen en kan agterna net hulleself blameer.
Hulle punte het gekom van drieë deur Morné Sefoor, Jason Pieterse en Delano Jacobs, terwyl Delano ook twee doelskoppe en 'n strafskop oorgeklits het.
Die C-span het gewen met 'n telling van 29 - 19. Hulle was teen rustyd alreeds voor met 17 - 5 en hierdie span speel Saterdag na Saterdag hulle harte uit.
Puntemakers was die regtervleuel Chad Arendse, senter Jacques April, losskakel Jayden Lakay en Morné Benn met 'n drie elk, terwyl die skrumskakel Robbie Frances met drie doelskoppe en 'n strafskop geslaag het.
Weereens was die "graveyard" een te veel vir die opponente, maar nou speel Seagulls twee wegwedstryde teen Evergreens Saterdag 24 Augustus in Pacaltsdorp en Maori's die volgende Saterdag in George.
Jerome Esau voer die agterlyn van Seagulls.
Seagulls bedank hulle getroue ondersteuners. Foto: Richard Webb
Willem Hendricks stuit die skeidsregter in sy spore as hy die agterlyn voer. Foto: Johan Victor
John Busch op een van sy kenmerkende lopies. Foto's: Richard Webb
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’