MELKHOUTFONTEIN NUUS - Seagulls-rugbyklub het Saterdag 14 Mei vir die tweede agtereenvolgende week vasgeval toe hulle in hul tuiswedstryd teen Happy Hearts van Brandwacht, net buite Mosselbaai naelskraap met 25 - 29 verloor het.
Die rustydtelling was 20 - 15 in die besoekers se guns.
Die wedstryd, wat deurgaans goeie rugby opgedis het, is egter deur omstrede beslissings gekniehalter. Soveel so dat die tuisskare hul misnoeë vele kere luidrugtig uitgespreek het.
Ten spyte daarvan het die tuisspan wel genoeg kanse gehad om die wedstryd te wen. Hulle sal moet leer om meer gefokus te wees om sodoende vinniger te kan aanpas by die omstandighede wat op die veld uitspeel.
Vir die wenners het Brenwin Barends (skrumskakel) die meerderheid van die punte met een drie, twee doelskoppe en vyf strafskoppe aangeteken.
Richayno Simons (linkervleuel) het ook 'n drie gedruk.
Vir Seagulls het Gershom van Rooyen (regtervleuel), Gertuan Kleinhans (linkervleuel) en Henrico Riddles (flank en kaptein) elk 'n drie gedruk.
Wilhelm Sollmons (heelagter) het twee drieë verdoel, asook met een strafskop geslaag terwyl Reagan Riddles (plaasvervanger heelagter) ook 'n strafskop bygevoeg het.
In die eerste wedstryd van die dag het Seagulls se B-span met 20 - 12 teen Happy Hearts gewen nadat hulle rustyd met 17 - 7 gedraai het.
Puntemakers vir Seagulls was Corné Witbooi (regtervleuel), Joswin Pieterse (losskakel) en Anoré van Staden (slot) wat elkeen 'n drie gedruk het. Pieterse het ook met een straf- en doelskop geslaag.
Vir Happy Hearts het Throwen Kuilder (losskakel) vir 'n drie gesorg met Dillon Hardenburg (plaasvervanger skrumskakel) wat dit verdoel het.
Seagulls speel Saterdag 21 Mei weg teen Spring Roses en sal alles moet uithaal om binne bereik te bly om in die eindronde deel te neem.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'