STILBAAI NUUS - Seagulls het Saterdag, 21 Februarie, as wenners van Slangrivier teruggekeer nadat albei hul spanne hulle wedstryde gewen het.
Die eerstespan was teen rustyd gemaklik met 17 - 0 voor. In die tweede helfte het hulle egter die voet effens van die pedaal gehaal en slegs nog eenkeer agter die pale gaan draai om die eindtelling op 24 - 5 te staan te bring.
Die tweedespan het dit moeiliker gehad en was teen rustyd met 5 - 0 agter. In die tweede helfte het hulle egter teruggeveg en uiteindelik met 10 - 5 geseëvier.
Eerskomende Saterdag pak Seagulls weer vir Arrows, dié keer in Melkhoutfontein, waar hulle hul goeie vorm sal wil bevestig.
Seagulls, wat vanjaar in die Eerste Liga A-afdeling speel, skop hul ligaverpligtinge op 14 Maart in Melkhoutfontein af teen Happy Hearts.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’