Gallery
MELKHOUTFONTEIN NUUS - Groot opgewondenheid het Saterdag 14 April onder Seagulls wat vanjaar hul 40ste bestaansjaar herdenk, se ondersteuners geheers met hul eerste ligawedstryd van die seisoen op eie bodem.
Die Melkhoutfonteiners het teen Mosselbaai, wat na 'n lang periode weer in die Langebergliga opgeneem is, te staan gekom. Beide spanne was dus vreemd vir mekaar en afrigters moes versigtig werk aan moontlike wedstrydplanne.
Heelwat toeskouers het die wedstryde bygewoon met die spanning wat aanvoelbaar was toe die A-spanne op die veld draf. Mosselbaai het met hul swaar pak voorspelers Seagulls se ligte span gereeld op die agtervoet gehad en só heelwat strafskoppe afgedwing.
Seagulls het die bal soveel moontlik lug gegee om die pas van die wedstryd te versnel. Dit was nie altyd maklik nie, want in die los- en vaste skrums, wat Mosselbaai oorheers het, moes die agterlyn onder druk en op die agtervoet probeer om die bal so gou moontlik by hul snellers uit te kry. Veral in die tweede helfte teen die wind kon Seagulls nie veel veld wen met lynskoppe nie en moes hulle knaend verdedig om die besoekers se swaar voorspelers van die doellyn weg te hou.
Seagulls se lynstane het uitgestaan en talle aanvalle is daarvandaan geloods. Aanhoudende verdediging het laat in die tweede helfte sy tol begin eis en dit het Mosselbaai ruimte gegee om meer aanvalle te loods. Weens die baie strafskoppe kon die wedstryd nooit regtig aan die gang kom nie. Mosselbaai het die wedstryd verdienstelik met 32-20 gewen.
Die B-spanne het 'n vinnige tempo gehandhaaf en beide spanne se verdediging was rotsvas. Daar is nie 'n aks bes gegee nie en na 'n klipharde wedstryd het Seagulls naelskraap as wenners van die veld gestap met die telbord op 14-13. Die span se Ruben Daries is as speler van die wedstryd aangewys.
Tydens die wedstryde is waargeneem dat Seagulls se jong spelers oor baie durf en deursettingsvermoë beskik, hoewel ondervinding en besluitneming nog aandag nodig het.
Borge, Hessequa se uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, en beamptes van SWD-rugby het die wedstryde bygewoon met die Seagulls wat met splinternuwe truie gespeel het wat deur 'n plaaslike kontrakteur, DCH Builders geborg is.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'