STILBAAI NUUS - Seagulls-ondersteuners kan hulle regmaak vir 'n rugbyfees op Saterdag 5 September wanneer die klub se A- en B-spanne albei halfeindstryde op die Graveyard in Melkhoutfontein speel.
Ná afloop van die laaste ligabepalings het Seagulls se A-span die liga in die eerste posisie afgesluit, terwyl die B-span derde geëindig het. Dit beteken dat beide die spanne hul halfeindstryde voor hul tuisskare op die Graveyard speel.
Die klub se sukses is des te meer indrukwekkend in die lig van die ontwrigting wat die seisoen weens die Mei-vloede ondervind het. Seagulls moes die punte in twee wedstryde teen Prins Albert deel, wat 'n potensiële vier punte van die span se totaal gekos het.
Die wedstryd teen Oudtshoorn moes ook uitgestel word, terwyl Knysna nie 'n span bymekaar kon kry vir sy wedstryd in Melkhoutfontein nie.
Ten spyte van dié uitdagings het Seagulls egter die terugslae verwerk en steeds daarin geslaag om die A-span bo-aan die punteleer te laat eindig.
Die C-span het ook sy liga in die eerste plek afgesluit. Weens die klein aantal C-spanne in die liga het die Unie egter besluit dat daar nie 'n halfeindstryd vir dié afdeling sal wees nie.
Die A- en B-spanne sal Saterdag albei teen Happy Hearts van Brandwag te staan kom, met 'n plek in die eindstryd op die spel.
Dat twee Seagulls-spanne tot die halfeindstryde gevorder het, is 'n besondere prestasie en het groot opgewondenheid onder die klub se ondersteuners veroorsaak.
Met die wedstryde wat op die Graveyard beslis word, is die tafel gedek vir 'n behoorlike rugbydag in Melkhoutfontein.
Al wat nou kortkom, is dat die fanatiese Seagulls-ondersteuners die pawiljoene vol pak en hul spanne met hul gejuig tot in die eindstryde dra.
Saterdag se wedstryde sal ook die laaste rugbywedstryde van die seisoen in Melkhoutfontein wees. Indien Seagulls daarin slaag om tot die eindstryde deur te dring, sal die eindstryde op Outeniquapark in George gespeel word.
Die Graveyard is dus gereed - en Melkhoutfontein kan hom regmaak vir 'n dag van uitspeelrugby op sy beste.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’