NASIONALE NUUS - Terwyl skole landwyd sukkel om hul finansiële verpligtinge na te kom, is sowat R630 miljoen se onbestede onderwysgeld aan die Nasionale Tesourie terugbetaal.
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) eis nou dat amptenare verantwoordelik gehou word vir gebrekkige beplanning en finansiële bestuur wat daartoe lei dat broodnodige geld nie skole en leerders bereik nie.
Die parlementêre Gekose Komitee oor Onderwys, Wetenskap en die Kreatiewe Nywerhede het Woensdag 21 Oktober sy kommer uitgespreek oor die terugbetaling van die R630 miljoen aan voorwaardelike toelaes deur die Departement van Basiese Onderwys.
Die komitee wil weet waarom die geld nie bestee of, waar moontlik, aangewend is vir dringende behoeftes soos skoolinfrastruktuur, sanitasie en ondersteuning aan die grondslagfase nie.
Volgens Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die SOS, is die situasie onaanvaarbaar.
“Dit help nie die regering bewillig miljarde rande vir onderwys as die geld nie uiteindelik die skole en leerders bereik waarvoor dit bedoel is nie.”
Die omvang van die bedrag is verstommend. Teen ’n beraamde jaarlikse indiensnemingskoste van R700 000 per onderwyser, is R630 miljoen gelykstaande aan sowat 900 onderwysposte vir ’n jaar.
Voorwaardelike toelaes mag egter nie noodwendig vir salarisse gebruik word nie.
Intussen sukkel skole in Gauteng om hul staatstoewysings te ontvang. Volgens die SOS het talle skole teen die voorgeskrewe betaaldatum van 15 Mei minder as 3% van hul jaarlikse toewysings ontvang.
Die gevolge sluit uitgestelde instandhouding, beperkte aankope van leermateriaal en druk op poste wat deur skoolbeheerliggame gefinansier word, in.
SOS en Solidariteit het reeds op 16 September 'n petisie aan die Parlement oorhandig waarin hulle ingryping by die Gautengse Onderwysdepartement versoek.
Buys sê die terugbetaling van miljoene rande terwyl skole om geld moet baklei, is 'n skreiende teenstrydigheid.
“Swak finansiële bestuur in die onderwys is nie bloot ’n administratiewe mislukking nie. Dit ontneem kinders van onderwysgeleenthede wat hulle nooit weer kan terugkry nie.” - Saamgestel deur Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’