STILBAAI NUUS - Seagulls het Saterdag, 14 Februarie, in hul derde vriendskaplike wedstryd met twee spanne kragte gemeet teen Happy Hearts van Brandwag.
Die tweedespan het 'n moeilike dag op kantoor beleef en kon net nie behoorlik aan die gang kom nie. Hoewel hulle teen rustyd nog met 7 - 0 voorgeloop het, het die momentum in die tweede helfte geswaai en moes hulle uiteindelik die knie buig met 26 - 14.
Seagulls se eerstespan het ook aanvanklik gesukkel om al hul silinders aan die brand te kry. Met die omdraaislag was hulle 14 - 5 agter. In die laaste kwart van die wedstryd het die span egter hul ritme herwin, die bal met selfvertroue rondgeskuif en met goeie samespel die oorhand gekry om die wedstryd met 29 - 14 te beklink.
Die ligabepalings skop op 14 Maart af en Seagulls het nog drie vriendskaplike wedstryde oor om hulle vaardighede en wedstrydfiksheid verder op te skerp. Saterdag wag 'n wegwedstryd teen Arrows in Slangrivier en die afrigters sal beslis hierdie week hard werk om die foute uit te stryk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’