STILBAAI NUUS - Seagulls het Saterdag 12 Augustus in Melkhoutfontein op hulle tuisveld soete wraak gesmaak nadat hulle in Mei onverwags vasgeval het teen All Blacks van Oudtshoorn.
Die A-span het die kragmeting teen All Blacks oortuigend met 37 - 10 gewen en dit het nooit gelyk asof hulle die wedstryd gaan verloor nie.
Die sterk pak van All Blacks het sy man gestaan, maar daar was net nie deurkomkans vir hulle nie. Seagulls het soos tiere verdedig en daar het beslis 'n paar manne met seer lywe teruggery Oudtshoorn toe.
Die haastige linkervleuel van Seagulls, Gershom van Rooyen, het twee keer agter die doellyn gaan kuier en Curnall Sollmans het sy skopskoen Saterdag aangehad. Die twee spanne het rustyd gedraai met die telling 24 - 3 nadat Curnall met 'n doelskop en drie strafdoele geslaag het.
FOTOGALERY: Seagulls meet kragte teen All Blacks
Regan Riddles van Seagulls op die aanval.
In die tweede helfte het die spel 'n bietjie losgetorring en daar is ook heelwat strafskoppe afgestaan op kritieke tye. Dit het egter nie die skrumskakel, Wilhelm Hendriks, verhoed om rats deur 'n gaping te blits vir sy drie nie.
Curnall Sollmons het verdoel en nog drie strafskoppe bygesit om die eindtelling 37 - 10 te maak. Die A-span het dus nou 13 van sy 16 wedstryde gewen.
Die B-span moes ongelukkig die knie buig en het met 3 - 11 verloor.
Die C-Span het gelykop gespeel met die eindtelling 5 - 5.
Seagulls se volgende tuiswedstryd is op 2 September teen Spring Roses en die bestuur doen 'n beroep op die ondersteuners om soos een man op te ruk om hulle te ondersteun.
Seagulls ondersteuners in hulle noppies.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’