Update
HEIDELBERG NUUS - Honderde inwoners van dié dorp, asook besoekers vanaf Kaapstad, Malmesbury, Robertson en so ver as Johannesburg het die naweek van 28 Oktober die 11de Heidelberg Sportdag bygewoon.
Die verrigtinge het met 'n groot optog vanaf die Duivenhoks-gemeenskapsaal deur die Oos-Dorp via die sentrale dorpsgebied tot by die sportterrein begin.
Past. Martin Meyer het met 'n Skriflesing uit 1 Korintiërs 9 geopen, waarna Vennito van Niekerk, die nuutverkose voorsitter van die Mervyn Joseph ANC-tak en jeugleier die verwelkoming behartig het.
Tom Pretorius, wyksraadslid en Kairos Beheerliggaam-voorsitter, het ook 'n woord van bemoediging gespreek.
Altesaam 15 rugby- en ses netbalspanne het Saterdag op die rugbyveld en netbalbaan sake uitgespook. Rugbyspanne van Malmesbury, Robertson, Kaapstad, Riversdal en Slangrivier het deelgeneem.
Die akteur Maurice Paige het gewys dat hy nie net kan toneelspeel nie, maar ook rugby.
Vanjaar het rugby veral groot verrassings opgelewer met al die plaaslike gunstelingspanne wat vroeg uitgeval het.
Die span van Boezak Bouers van Slangrivier het 'n rekord oorwinning behaal deur die Cape Bentonite span met 61-0 te klop.
Die span van Robertson, Mayama Ve'zzz het Wild Dogs van Swellendam met 35-3 geklop om as Cup-wenners gekroon te word.
Robertson se Mayama Ve’zzz rugbyspan is as kampioene gekroon.
Swartland Koringare het die plaatfinaal-beker opgeraap toe hulle Morning Milk met 12-0 klop.
Angels van Riversdal het die verdedigende kampioene, Civils 2000 geklop om as netbalkampioene gekroon te word.
Ander uitslae
Rugby: Besgeklede span - Wynland; beste optog span - Heidelberg Munisipaliteit. Plaat afdeling: Beste speler - Corbin Swartbooi. Cup-afdeling: Beste speler - Ceanen Marcus (Mayama Ve'zzz).
Netbal: Besgeklede span - Civils 2000; beste dissipline - Arista; beste speler - Liezel Johannes; beste manlike speler - Divan Meyer. Hierdie jaar se begunstigdes vir die gelde geïn is Heidelberg United krieketklub en Kairos Ondersteunersgroep (KOG).
Lees 'n vorige artikel: Rugby-uitslae verras by sportdag
ARTIKEL EN FOTO'S: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'