Gallery
RIVERSDAL NUUS - 'n Wentelling van 26-24 dui op 'n naelskraapse oorwinning, maar Riversdal Blues se ondersteuners sal wel reken dat hulle verdien het om dié Super B-ligawedstryd teen Spring Roses van Oudtshoorn Saterdag op Riversdal te wen.
'n Hele paar verbroude skoppe pale toe het die tuisspan so ampertjies gekelder, maar die Blues het karakter gewys, sterk teruggeveg en in die laaste tien minute 'n verwoede aanslag van Spring Roses afgeweer.
Die tuisspan het vier drieë gedruk vir 'n welkome bonusspunt. Hul sesde plek op die punteleer kom ná drie ligawedstryde waarvan hulle twee gewen het.
FOTOGALERY: 'n Naelskraapse oorwinning vir die Blues
'n Paar dinge het by die Blues gelol. Die ingooie by die lynstane was nie akkuraat nie en dit het die tuisspan van 'n belangrike aanvalsplatform ontneem. 'n Paar ingooie is afgeneem met die Blues sterk op die aanval en dit sal hulle blitsig moet uitsorteer voor die Knysna-kragmeting.
In die skrums het dinge ook aanvanklik gelol, maar ná rustyd het Riversdal beter geskrum en toe op gelyke voet met die besoekers meegeding.
Maar swak dissipline is 'n groot bron van kommer vir Riversdal se spogspan. Die tuisspan het 'n horde strafskoppe afgestaan en is ook met twee geelkaarte gestraf. Teen Knysna kan dit hul doodsteek wees.
Maar dit spreek boekdele van die span se veggees dat hy steeds die knoop kon deurhak.
Andrew Jacobs (buitesenter) nael sterk met die bal op pad na sy drie teen Spring Roses met Lyle Jansen (skrumskakel) skuins agter hom.
Saterdag reis hulle na Knysna om die voorlopers in die Super B-liga op hul tuisveld te pak. André Goliath, hoofafrigter, van die Riversdal Blues, het aan Suid-Kaap Forum gesê dis 'n stywe bult wat voorlê.
"Die foute teen Spring Roses kan ons beslis nie teen Knysna bekostig nie. Dan kom ons met die kous oor die kop terug."
Micheal Hendricks jnr. (heelagter) is ná afloop van sy eerste wedstryd vir Riversdal Blues as speler van die wedstryd aangeewys.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'