ALBERTINIA RUGBY NUUS - Die vreugdevure brand hoog in dié dorp na die Rangers Saterdag 20 Julie 'n rekordgetal drieë op hul tuisveld aangeteken het.
Die tuisspan het in hulle Presidentsligawedstryd teen Ladismith 18 drieë gedruk, wat almal verdoel is.
Hulle verslaan hul opponente met 'n uitmuntende eindtelling van 126-0.
Die voorsitter Fred Carelse en ondervoorsitter Chris Booysen is in hul skik met hierdie groot prestasie en geskiedkundige gebeurtenis vir die klub, wat volgens hulle moontlik gemaak is deur 'n paar verskuiwings deur die afrigter, Hendrik Saayman.
Rangers het die afgelope paar weke glad nie goed gevaar nie en naelskraap teen Seagulls en Blues gewen. Dinge het egter nou goed vir hulle uitgewerk en alles het volgens plan verloop. Hulle het in alle fasette die wedstryd oorheers en die besoekers kon nie hond haaraf maak nie. Die skrif was teen rustyd reeds teen die muur met die telling op 42-0 in Rangers se guns. Jonathan Matiso, veelsydige agterspeler, was op sy stukke en het vier drieë aangeteken, met die veteraansenter, Calvyn Kortjé wat twee drieë gedruk het.
Onder die voorspelers was dit Conroy Michaels en Conroy Matiso wat elkeen twee drieë druk. Keanon Tarentaal het met sy terugkeer in die A-span weer verwoesting met sy skopvoet gesaai en altesaam 34 punte aangeteken. Hy is as speler van die wedstryd aangewys.
Rangers se B-span het ook nie 'n voet verkeerd gesit nie en met 41-15 geseëvier.
Rangers het die naweek 'n loslootjie en sal op hierdie pragtige vertoning met hul volgende wedstryd wil voortbou. Booysen het aan Suid-Kaap Forum gesê dat hy baie trots op albei spanne is en dat hul nederlaag teen Mosselbaai Dorp hulle nie geknak het nie. Hy gee alle lof ook aan die afrigters van die spanne.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'