ALBERTINIA RUGBY NUUS - Senior en jong spelers van Albertinia Rangers-rugbyklub is kliphard aan die oefen vir die 2020-rugbyseisoen.
Na verlede jaar se koppestamp tussen spelers en die bestuur lyk sake weer rooskleurig in die Rangerskamp.
Oudspelers en afrigters het begin om die spelers fiks te kry.
Selfs diegene wat hul rugbystewels opgehang het, heroorweeg om weer te speel. Die veelsydige voorspeler Claudio Ntozini is een van hulle. Dié baldraer en verdediger kan maklik die vonk in die enjinkamer verskaf indien die afrigter van die A-span hom insluit. Die afrigters en die nuwe bestuur is dankbaar vir die opkoms van baie jong spelers wat lyk of hulle lus het om rugby te speel.
Na verneem word speel Rangers Saterdag 25 Januarie teen Heidelberg in hul eerste vriendskaplike wedstryd.
Heidelberg, wat tans in die SWD Premierliga speel, sal die oefenwedstryd op die vooraand van die seisoen met erns bejeën.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'