United se kaptein, Garth Esau het die loot gewen en besluit om te kolf. Die ervare openingskolwers, Leon Hartnick en Andrew Pieters het bestendig gekolf om onderskeidelik 22 (3 viere) en 43 (3 viere en 2 sesse) aan te teken. Hulle het vir 'n vennootskap van 40 lopies gesorg.
Goeie vennootskappe om die tweede en derde paaltjies tussen Pieters en Ralldon Roberts met 31 (5 viere) en Daylin Pretorius met 22 (3 viere) onderskeidelik het United in staat gestel om 215 lopies aan te teken. Esau het het ook goed gekolf en 39 lopies, wat 4 viere en 1 ses ingesluit het, aangeteken. Ryan Petersen en Damian Schietekat het beide 12 lopies aangeteken.
Vir Pioneers het hul kaptein, Carlos Koeberg met 5/23 met 1 leeg na 8 hard probeer om die tuisspan te beperk. Danrick Moodien met 2/38 na 7, Mbuyiseli Malanga met 1/54 met 1 leeg na 7 en Anschuwale Windvogel met sy blitsballe met 1/7 met 2 leeg na 4 boulbeurte het die ander paaltjies ingeryg.
Die besoekers, wat die taak gestel was om 216 lopies vir 'n oorwinning aan te teken was gou in die pekel en het gesteier om hul openingspaar vir net 13 lopies op die telbord te verloor. Die held van verlede jaar se oorwinning, Evrit Smith kon nie dié keer 'n honderdtal aanteken nie en moes tevrede wees met 'n moedige 42 lopies, wat 6 viere ingesluit het.
Windvogel met 27 (5 viere), Jannie Creamer met 18 (3 viere) en Jacques Arendse met 16 lopies (3 viere) was die enigste ander kolwers wat enige weerstand teen United se boulers kon bied.
Ramsey Noudt met 4/27 na 6 beurte en Cecil Meyers (Man van die Wedstryd) met 3/21 na 5 het die kolwers behoorlik vasgepen. Petersen met 1/26 na 5, Schietekat met 1/26 na 3 en Warren Williams met 1/30 na 4 beurte het die ander paaltjies laat kantel.
United speel die naweek weg teen onderskeidelik Knysna Kavaliers en Pioneers. Kavaliers is tans die ligavoorlopers en United sal wil bewys dat hul wen teen Pioneers nie 'n gelukskoot was nie.

Aspirant kampioene... Die Heidelberg United krieketspan in hul nuwe opwarmingshemde voor hul wedstryd teen Pioneers van Plettenbergbaai. Die hemde is deur 'n klublid, Dean Hurling wat in Bethlehem in die Vrystaat woon, geskenk. Foto: Clive Pretorius.