HEIDELBERG NUUS - Met hul oorwinning van 15-8 na 'n taai stryd Saterdag 19 Augustus teen Albertinia Rangers, is die SWDRU Presidentsliga-beker binne Heidelberg se bereik wanneer hulle die naweek teen George se vlagskip in die eindstryd te staan kom.
Die rustydtelling in die halfeindstryd op hul tuisveld was 12-3. Die wedstryd was vanaf die afskop met mening deur beide spanne met klipharde en opwindende hardlooprugby gekenmerk.
Die tuisspan het in die 22ste minuut eerste punte aangeteken met 'n drie in die linkerhoek deur die heelagter, Corbin Swartbooi. Hulle het hul voorsprong binne drie minute met 'n drie deur die senter, Fernholdt Buis, vergroot. Dit is deur Swartbooi verdoel om met 12-0 voor te loop.
Die besoekers het egter nie gaan lê nie en het deurgaans druk uitgeoefen. Hulle kon slegs met een strafskop deur hul skrumskakel, Keanan Tarentaal, slaag.
Hy het ook 'n gulde geleentheid kort voor rustyd verbrou toe hy met 'n strafskop misluk het. Beide spanne het geleenthede verspeel om punte aan te teken deur verkeerde keuses te maak.
Rangers se enigste drie is in die 65ste minuut van die wedstryd aangeteken toe Tarentaal in die hoek gaan druk het. Hy het egter weer met die doelskop misluk, wat die gaping tussen die spanne na twee kon laat krimp het.
Dit het by tye voorgekom asof Heidelberg hul fokus verloor en kon net 'n strafskop deur Swartbooi in die tweede helfte byvoeg. Indien die tuisspan hoop om Saterdag as die kampioenspan gekroon te word, sal hulle beslis meer gefokus en gedissiplineerd moet speel.
In die wedstryd tussen die tweedespanne het Heidelberg redelik gemaklik met 32-11 geseëvier, nadat hulle met 17-5 rustyd voorgeloop het. Vir Heidelberg het Junico Pieters, Yoann Hoibian en Laughton Peterzen elk 'n drie gedruk. 'n Strafdrie is ook aan die span toegeken. Carlo Williams het twee straf- en twee doelskoppe aangeteken.
Vir Rangers het Abraham September hul enigste drie gedruk, met Elroy Buis wat met twee strafskoppe geslaag het.
In die eerste twee wedstryde van die dag tussen die o.15- en o.19-spanne van Kairos en Gerrit du Plessis Senior Sekondêr, het die besoekers met onderskeidelik 22-20 en 15-8 gewen.
Die eerstespan van Heidelberg saam met hul afrigters, bestuurslede en borge. Foto's: Clive Pretorius, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'