ALBERTINIA NUUS - 'n Oudlosvoorspeler van Rangers, Christo Jantjies, het die rugbyveld vir die verhoog verruil.
Volgens Jantjies het hy baie deur tydskrifte oor liggaamsbou geblaai en toe besluit dat hy dit 'n kans wil gee. Sy hele lewe het begin verander nadat hy by 'n gimnasium aangesluit het. Vir meer as twee jaar het hy hard gewerk om soos sy rolmodel, Phil Heath, te lyk en dit was ook sy inspirasie.
Sy groot oomblik het Saterdag 7 April aangebreek om aan die Garden Route Casino Destiny (Rise of Iron) deel te neem. Dit was sy heel eerste deelname aan dié sport en het hy 'n tweede plek (novice men u.90kg) verower.
Later het hy ook aan die Open Classic Bodybuilding Challenge deelgeneem en 'n trofee vir die eerste plek verower.
Jantjies het aan Suid-Kaap Forum gesê dat hy die vrugte gepluk het vir sy harde werk en dat hy sy span loof wat hom met die voorbereidings bygestaan het. "'n Spesiale dankie aan Linelle Whitehead wat my met die afrigting gehelp het."
ARTIKEL: HEINRICH FORTUIN, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'