HEIDELBERG NUUS - Die Heidelbergers het Saterdag 2 Maart met hul oorwinning oor Riversdal Blues weereens bewys hoekom hulle die beste rugbyklub in die Hessequa-streek is.
Heibi verslaan hulle buurdorp in 'n vriendskaplike wedstryd met 41-7.
Blues het behoorlik kleigetrap teen Heibi se A-span. Hoewel hul voorspelers alles in die stryd gewerp het, wou niks in plek val nie. Heidelberg se voor- en agterspelers het in alle fasette oorheers. Francios Peters, Heibi-vleuel het op sy beste vertoon met bal in hand. Selfs die losvoorspelers, Lyndon Hartnick en Masilino Meyer was ook briljant op die verdediging én die aanval.
Met die rugbyseisoen om die draai lê harde werk vir Blues se afrigters voor. Baie van hulle sleutelspelers is buite aksie en die jongspan moes maar instaan. Heidelberg lyk lus vir rugby speel en sien uit na 'n klipharde rugbyseisoen.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus.'