RUGBY NUUS - Van die kuikenmoord, 'n bloedbad en kriekettelling het in verlede Saterdag se derby tussen Riversdal Blues en Heidelberg toe nie veel gekom nie.
Soos verwag het Heibi die knoop met 25 - 12 deurgehaak, maar hul ondersteuners sal dit sekerlik erken dat dit nie maklik was nie.
Met nog ses minute se speeltyd oor, het die besoekers met 18 - 12 voorgeloop met die Blues wat verwoed op die aanval was.
En toe daai geel kaart wat die strooitjie was wat die kameel se rug geknak het. Dis al klaar erg genoeg om kragte te meet teen die naasvoorloper in die Super A-liga, maar met 'n speler minder is jy kniediep in die moeilikheid. Dis dan wanneer daar oral gate ontstaan en dit kon Heibi uitbuit.
Heidelberg se groter ervaring van rugby op dié vlak het duidelik gewys. Hulle is al immers vyf jaar of so mededingend in die vorige Premierliga (nou Super A-liga). Daai ervaring gaan koop jy nie in 'n winkel nie. Jy werk hard daarvoor op die speelveld.
Juis daarom het Heibi se spelers nie paniekerig geraak hier teen die einde nie. Daar moet die kaptein, Lyndon Hartnick, op die skouer geklop word. Hy bly maar 'n yster.
Maar die goeie nuus vir die Blues is dat sy spel nou 'n opwaartse kurwe toon. Sy gebrek aan ervaring in die liga het in die begin duidelik gewys en dis te verstane. Maar die spelers begin nou 'n gevoel ontwikkel en agterkom wat kook in die warm oond van die Super A-liga.
Met 'n loslootjie die komende naweek kan Blues goed uitrus.
"Maar, ons werk ook hard aan 'n paar aspekte van die spel, soos ons lynstane, sodat ons die kragmeting teen Barbarains aanstaande week met groter vertroue tegemoet kan gaan," het die hoofafriger Rhyno Jacobs aan Suid-Kaap Forum gesê.
Moenie die Blues nou al afskryf nie.
Berthal September probeer 'n verdediger van die Blues ontwyk.
Die Heibi-stormram Marcelino Manho was een van Heibi se groot uitblinkers.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’