HEIDELBERG NUUS - Heidelberg-rugbyklub het in Pacaltsdorp vir Evergreens, die premierliga-voorlopers, in hul wegwedstryd Saterdag 1 Junie behoorlik laat verdroog deur die wedstryd met 39-22 te wen.
Heibi het rustyd met ’n oortuigende voorsprong van 20-3 na die kleedkamers gegaan.
Dié vertoning was sekerlik die besoekers se beste tot dusver die seisoen en alle aanduidings is daar dat hulle vasberade is om beter as verlede seisoen te vaar. Hulle beklee nou die derde plek met hierdie sege.
Heibi se verwoestende aanvalle het gou vrugte afgewerp en hulle eerste punte is in die vierde minuut met ’n drie deur die flank, Marcelino Meyer aangeteken.
Corbin Swartbooi het die twee punte bygevoeg. Die twee vleuels, Shirgené Swartbooi en Gershom van Rooyen, het elk ’n drie voor rustyd gaan druk, terwyl Corbin met een straf- en doelskop geslaag het. Evergreens se Winrey Stoffels kon slegs ’n strafskop tussen die pale vir sy span oorklits voor lemoentyd aangebreek het.
Na die blaaskans het Heibi met hul aanslag volgehou en hulle het hul bonuspunt met hul vierde drie in die 45ste minuut verseker toe Corbin gaan druk, wat hy ook verdoel het. Hulle het nog twee drieë bygevoeg toe eers Anrich Manho in die 52ste minuut, en Shirgené 10 minute later gaan druk het. Corbin kon net Manho se drie verdoel om die telling op 39-3 te bring.
Die tuisspan het in die laaste 12 minute drie drieë gedruk, waarvan twee verdoel is om hul telling skaflik te maak. Evergreens se drieë is deur Anton Smit, Shaun Booysen en Anvor Prins aangeteken. Leegan Moos het met twee doelskoppe geslaag.
In die eerste wedstryd van die dag het Evergreens se derde span net-net met 15-12 gewen nadat hulle rustyd met 12-5 voorgeloop het. Die wenspan se puntemakers was Dominique Lombard en Ruwhan Bredenkamp, elk met ’n drie. Colan Hoogbaard het met een straf- en een doelskop geslaag.
Vir Heidelberg het Herschelle Pieterse twee keer gaan druk, met Veandré Carelse wat met ’n doelskop geslaag het.
Heibi se tweede span het ’n loesing gekry met hul neerlaag van 39-17, nadat hulle rustyd met 34-10 agter was. Vir Evergreens het Nathan Beukman vier drieë gedruk, asook Clint Miller en Nathan Botha met een drie elk. C-Than Moos het met drie doelskoppe en een strafskop geslaag.
Vir die besoekers het Roger Williams (kaptein) twee drieë gedruk. Carlo Williams het albei verdoel en met een strafskop geslaag.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'